Amcu-moordkomplot: Saak uitgestel

Amcu-lede betoog buite die Brits-landdroshof (April 2018). Foto: ANA.

Sewe mans, wat daarvan beskuldig word dat hulle beplan het om Amcu-leiers te vermoor, sal sewe dae moet wag voor hulle sal weet of hul aansoek om borgtog suksesvol was.

Landdros Jethro Mosime het in die Brits-landdroshof die saak tot 20 April uitgestel vir sy uitspraak.

Staatsaanklaer Cassius Mona het aan die hof gesê die gemeenskap sal geskok wees as die mans op borgtog vrygelaat word. “Die ondersoekbeampte [ao Johannes] Montsho het getuig dat Amcu-lede teen hul borgtog betoog het. Diegene wat die hofverrigtinge bywoon, verteenwoordig die meerderheid van Amcu-lede wat nie na die hof toe kon kom nie,” het Mona bygevoeg. “Montsho het ook getuig die feit dat daar nie enige voorvalle aangemeld is ná die ander beskuldigdes op borgtog vrygelaat is nie, beteken nie dat die publiek tevrede is nie.”

Hy voer aan die staat het sy saak teen die beskuldigdes bewys en dat hulle versuim het om te bewys dat dit in die gelang van geregtigheid is om vrygelaat te word op borgtog.

Mona het in sy betoë die besonderhede bekend gemaak wat daartoe gelei het dat die groep saamgespan het om die Amcu-leiers te vermoor. “Daar was ʼn probleem binne Amcu, en sommige lede is gevolglik uit die vakbond geskors. Hulle was nie tevrede oor die skorsing nie en het vergader en ʼn plan beraam om lede van Amcu te vermoor,” het Mona verduidelik. Vyf Amcu-leiers is geïdentifiseer om vermoor te word.

“Die doel van dié vergadering was om te beplan hoe die betrokke leiers, soos Malibongwe Mdazo en ander, te elimineer. Die groep het geglo sodra hulle vermoor is, sal dit die einde van Amcu in die myne beteken. Drie huurmoordenaars is van die Oos-Kaap ontbied. Mdazo is geskiet en hy het gelukkig oorleef. Sy naam was ook op die lys.”

Mdazo is op 22 Julie 2017 geskiet toe hy ʼn sokkerwedstryd in Mooinooi buite Brits bygewoon het.

Mona het toegegee dat dit moeilik is om ʼn saak van sameswering om moord te pleeg, te bewys. Hy het gesê om seker te maak die saak word suksesvol vervolg, moet twee of meer persone betrokke wees.

Die verdediging voer aan hul kliënte is die alleen broodwinners van hul gesinne en sal nie die hofsaak probeer ontduik, of met die ondersoek of ooggetuies inmeng nie. Adv. Katlego Magano het die hof versoek om die skoon rekord van die beskuldigdes in gedagte te hou.

Die staat voer aan Nkosinathi Mantashe, Samkelo Mkhutshwa, Simphiwe Silwane, Lungisa Madiba, Juke Mjakane, Sthembe Jakane, Xolile Madikane, Mthethelethu Mtshukuka, Zamelekhaya Mboxela, Zithobile Mangqo, Bongile Cingo en Peterson Siyaya het saamgespan om Amcu-leiers in Marikana te vermoor.

Mantashe is vrygelaat op borgtog van R10 000 en Mkhutshwa op R2 500. Mangqo en Cingo is vrygelaat met ʼn waarskuwing.

Montsho het tydens die verhoor gesê Siyaya, ʼn lid van die National Union of Mineworkers (NUM), was nie deel van die persone wat saam vergader het nie. Hy was eers betrokke nadat die huurmoordenaars betaal is.

Die huurmoordenaars sou R50 000 per moord betaal word, en hulle het aanvanklik R10 000 ontvang.

“Beskuldigde 12 [Peterson Siyaya] word met die saak verbind omdat hy geld gebring het waarmee die huurmoordenaars betaal is. Geld moet geruil word om seker te maak ʼn transaksie, vir sameswering om moord te pleeg, word afgehandel.”

Sommige Amcu-lede het buite die hof betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dis ‘n lekker land die!!! MOORD – een van ons land se nasionale sporte!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.