Amcu-moordsaak: ‘Huurmoordenaar’ laat vaar aansoek om borgtog

Amcu-lede betoog buite die Brits-landdroshof (April 2018). Foto: ANA.

Een van die mans wat na bewering gehuur is om lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) te vermoor, het sy aansoek om borgtog Vrydag in die Brits-landdroshof laat vaar.

Simphiwe Silwane is na bewering een van drie mans wat uit die Oos-Kaap gehuur is om Amcu-lede in Noordwes te vermoor om seker te maak dat dié vakbond sy houvas by Lonmin-myne in Marikana sal verloor.

Die hof het tydens twee van die vermeende huurmoordenaars se aansoek om borgtog gehoor dat hulle ʼn beëdigde verklaring afgelê het met besonderhede oor hul betrokkenheid in die sameswering om vyf Amcu-leiers te vermoor.

Die staat voer aan Amcu het ʼn groep persone afgedank en hulle het saamgesweer om die leiers te vermoor. Die afdankings het gevolg ná interne probleme in die vakbond en nuwe leiers is aangestel. Die groep was nie tevrede dat hulle uit Amcu afgedank is nie, en het vyf leiers, wat die ondersteuning van vakbondlede geniet het, geïdentifiseer.

Amcu-takvoorsitter Malibongwe Mdazo is op 22 Julie 2017 geskiet en gewond in ʼn poging om hom te vermoor.

Nkosinathi Mantashe, Samkelo Mkhutshwa, Simphiwe Silwane, Lungisa Madiba, Juke Mjakane, Sthembe Jakane, Xolile Madikane, Mthethelethu Mtshukuka, Zamelekhaya Mboxela, Zithobile Mangqo, Bongile Cingo en Peterson Siyaya is in hegtenis geneem op aanklag dat hulle saamgesweer het om Amcu-leiers in Marikana te vermoor.

Mantashe is vrygelaat op borgtog van R10 000 en Mkhutshwa is vrygelaat op R2 500. Mangqo en Cingo is vrygelaat op ʼn waarskuwing.

Ao Johannes Montsho, ondersoekbeampte, het aan die hof gesê die mans het verskeie vergaderings belê waar dit ooreengekom is dat hulle huurmoordenaars moet aanstel. Die leiers is geïdentifiseer as Malibongwe Mdazo, Pule, Kwenene, Andile en Cindy. Volgens Montsho was die samesweerders oortuig dat, sou die vyf mans vermoor word, hul volgelinge sou terugtrek en Amcu sal ineenstort.

Die huurmoordenaars sou R50 000 per moord betaal word.

Die uitspraak oor die borgtogaansoek vir die groep samesweerders is tot 20 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.