Amcu nog onseker oor Sibanye-Lonmin-samesmelting

Amcu-president Joseph Mathunjwa (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), het Dinsdag gesê sy vakbond het nog nie besluit of hy by die hofaansoek gaan aansluit om Sibanye-Stillwater se samesmelting met Lonmin Plc tersyde te stel nie.

Die Groter Lonmin-gemeenskap (GLC) het die konstitusionele hof verlede maand genader en doen aansoek om verlof tot appèl om Sibanye se aanskaffing van die platinummynmaatskappy Lonmin, ter waarde van R5,2 miljard, tersyde te stel.

Die GLC is ʼn niewinsgewende organisasie wat verskeie gemeenskappe van Rustenburg verteenwoordig, soos Marikana, Mooinooi, Majakeng, Tornado, Nkaneng en Bapo ba Mogale.

Die organisasie wil hê die hof moet verklaar dat artikel 17, wanneer dit met artikel 13 (a) van die Mededingingswet gelees word, ongrondwetlik is en dat die samesmelting van Sibanye en Lonmin dus onreëlmatig is. GLC voer aan die samesmelting is goedgekeur sonder dat die departement van minerale hulpbronne ʼn spesiale arbeidsplan oor ʼn groot samesmelting goedgekeur het.

Amcu se appèlaansoek teen die samesmelting is in Mei deur die mededingings-appèlhof van die hand gewys en die Mededingingstribunaal se beslissing van 21 November 2018 bekragtig om Sibanye se aanbod goed te keur.

Mathunjwa het Dinsdag in Sandton aan verslaggewers gesê Amcu ondersteun die gemeenskap se inisiatief, maar die vakbond se nasionale uitvoerende komitee het nog nie ʼn besluit gemaak of hy finansieel ʼn bydrae gaan lewer tot die hofsaak nie. “Ons sal enige poging ondersteun om ons minerale terug te bring en gemeenskappe te bevoordeel. Ons het egter nog nie besluit of ons aan ons prokureurs opdrag moet gee om ʼn stawende verklaring in te dien nie.”

Amcu se NUK sal na verwagting binne die volgende week ʼn besluit hieroor neem.

Mathunjwa het gesê die vakbond het sy eis van R12 500 in 2012 in die platinumbedryf verhoog en eis nou R17 000 vir intreewerkers. Dit moet binne drie jaar behaal word.

Hy het gesê Amcu se jongste bygewerkte eise sluit, onder andere, ʼn basiese salarisverhoging in van R1 500 per jaar in vir kategorie A en B-werkers oor ʼn driejaarooreenkoms, 10% vir kategorie C en D-werkers oor dieselfde periode met ʼn behuisingstoelaag van R1 000.

Amplats bied tans ʼn basiese salarisverhoging van R1 000 vir jaar een, R800 vir jaar twee en drie aan graad A en B-werkers, en 5,5% vir elk van die drie jaar aan werkers in kategorie C en D.

Implats bied ʼn verhoging van R800 per jaar aan vir elk van die drie jaar vir kategorie A en B, en ʼn 5%-verhoging vir kategorie C met ʼn verhoging van R100 vir die leefstyltoelaag.

Sibanye RPM bied R700 as ʼn basiese salarisverhoging vir kategorie A en B-werkers vir jaar een en twee, en R800 vir jaar drie. Hulle bied 4,3% aan vir kategorie C en D-werkers vir elke van die drie jaar.

By Lonmin bied Sibanye ʼn verhoging van R300 vir jaar een, R350 vir jaar twee en R400 vir jaar drie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George in Bloem ·

Daar le tawwe tye voor vir almal in die land maar veral vir die unies want ons ekonomie is nou besig om teen ‘n al hoe vinniger tempo sy alie te sien,en dis juis as gevolg van die ekonomiese beleid van ons wonderlike kommunistiese ANC regering en al hulle wonderlike planne en die onnosele onmoontlike ekonomies naiewe eise wat die unies aan werkgewers stel. Die banke gaan duisende mense afle,die groot myne is reeds in die proses en letterlik honderde groter en middelslag maatskappye kyk na afleggings as ‘n opsie om te oorleef. Die wisselkoers lyk sleg en beleggers bly weg.Wat dink die unie gaan hulle kan doen? Alles reg toi toi,breek en brand?Jy kan tog nie ‘n dooie koei bly melk nie? Nee wat,hier kom groot moeilikheid…….binnekort.

Gert ·

Uitstekende vergelyking George: Mens kan nie ‘n dooie koei melk nie! Niemand kon dit beter stel nie!

Swanna ·

Goergie van Bloem , Siener van Rensburg het al hierdie ding voorspel en nog steeds sit almal met blinde oë en staar na Ramapoka om alles om te draai en soos jy sê, ‘n dooie koei kan nie gemelk word nie. Die koei is nog nie dood nie maar uitgeteer en maaaar maar binne kort val sy om.

Trol ·

Plaas van koop amcu albei nyne dan kan hulle mos kitaar slaan soos wat hulle vir hulle lede wil hê.

Jimmy ·

Die kaders in die vakbonde steun sosialisme, maar sodra maatskappye wat in ‘n mededingende omgewing moet funksioneer stappe doen om te oorleef dan kla hulle. Jy kan nie jou brood aan twee kante gebotter hê nie.

John ·

Ons het meer Big Sixes, keisers, konings, unies, vervolgingsliggame, verontregtes, Sassasiane, werkloses, onwettige immigrante, parassiete en onvervolgde skimmels op langverlof in SA as enige ander land in die wèreld. Binnekort sal ons ook die rekord slaan vir die land wat in rekordtyd tot by die afgrond afgestorm het en trots met ‘n sierlike duik, met die speel van die reènboog-volkslied, al toi-toi-einde oor die afgrond verdwyn het. Malema het nogal ‘n bloedrooi roos tussen sy tande vasgebyt wat sy slim tong vir ‘n oomblik tot stilte gedwing het… maar net vir ‘n oomblik, toe hoor ons ‘n vreemde klank…

Peet ·

Mnr Mathunjwa gaan lees die werkloosheid statistiek (waarskynlik erger as wat die statistiel).
Mynwerk is harde gevaarlike werk en jy wil graag vergoed word vir jou insette. MAAR enige werk is vandag meer werd as geen werk. EN as jy daarin sou slaag om myne te laat faal in sinnelose kragspeletjies is jy só aandadig soos die ANC om die land te venietig.

Christo ·

Eerstens moet ons vra of Mathunjwa kan lees of nie….?
Tweedens kan hy / hulle nie sover dink aan wat die gevolge van so aansoek sal wees indien dit toegestaan word nie. As hulle kon dink, was hulle sekerlik verder in die lewe.
Derdens gaan dit oor MAG en hulle sal niks en niemand ontsien om te kry wat hulle wil he en om die land en ekonomie verder in die grond in te bestuur as wat dit alreeds is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.