NUM se bewerings kom nadat hul verteenwoordigers glo die myn Dinsdag wou besoek, maar toegang geweier is. Hulle is ook nie toegelaat om met die mynbestuur te vergader nie, maar het wel met die geaffekteerde mynwerkers se families gepraat.
Manzini Zungu, Amcu se woordvoerder, het Donderdag gesê die vakbond “gaan nie eers die moeite doen om op NUM se simpel bewerings te reageer nie”.
“NUM het nie eens lede by die Lily-myn nie. Wanneer hulle sê ons konkel met die mynbestuur om die waarheid [oor die ineenstorting] weg te steek, verstaan ek nie wat hulle bedoel nie. Ons het gevra dat ʼn ondersoek gedoen word. Ons bestuur nie die myn nie, ons het bloot lede wat daar in diens is,” het Zungu gesê. Hy het gesê Amcu-beamptes het niks om weg te steek nie.
Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda is in ʼn skeepshouer onder die grond vasgekeer toe ʼn gedeelte van die Lily-myn op 5 Februarie ineengestort het. Reddingspanne probeer sedertdien by die skeepshouer uitkom, maar was tot dusver onsuksesvol.
“Ons het voorstelle aan die hand gedoen [van hoe die skeepshouer uitgehaal kan word], maar daar is vir ons gesê dit sal te duur wees. Die departement van minerale hulpbronne het inspekteurs en onafhanklike kenners na die myn gestuur, so ek weet nie wat die NUM van ons wil hê nie,” het Zungu gesê.
Coetzee Zietsman, woordvoerder van die myn, het gesê NUM is bloot toegang tot die myn geweier omdat die vakbond geen kiesreg by die myn het nie. “NUM is nie ʼn meerderheidsvakbond hier nie. Die mense met wie hulle wou praat, was almal in elk geval klaar weg vir die vakansie, so ons kon hulle nie op die perseel toelaat nie,” het Zietsman gesê.
Hy het ontken dat NUM vooraf ʼn vergadering met die mynbestuur gereël het.