Amcu ontstoke na nóg ʼn sterfte by Harmony-myn

(Argieffoto:
Martin Brechtl/Unsplash)

Die mynwerkersvakbond Amcu het vir groter verantwoordbaarheid deur strenger wetgewing gevra nadat hy verneem het van nóg ʼn sterfte in die bedryf, dié keer by Harmony Gold se Kusasalethu-myn aan die Wes-Rand.

Gabriel Nkosi, Amcu se nasionale gesondheid- en veiligheidskoördineerder, het gesê die voorval het Vrydag gebeur. Benewens die sterfte is twee werkers in dieselfde voorval beseer.

Amcu sê ʼn ondersoek na die ongeluk het reeds begin.

“Volgens ons inligting staan die dodetal vir 2020 op sewe. Ons wil ook benadruk dat dit tot dusver vanjaar die derde werker is wat dood is by een van Harmony Gold se myne. Ons vergeet ook nie dat Harmony Gold verlede jaar tien sterfgevalle gehad het nie. Dit is tien broodwinners wat dood is,” het Nkosi gesê.

“Is hierdie die begin van ʼn bloedbad wat ‘die veiligste jaar op rekord’ gaan verpletter? Daar is geen sogenaamde veiligste jaar, tensy geen werker sterf, siek of geskend word nie. Die bedryf het bloed aan sy hande en die lewe van ʼn Afrika-werker is steeds goedkoop.”

Amcu het sy vroeëre oproep dat die Wet op Myngesondheid en -veiligheid gewysig word, herhaal. Hy vra dat mynmaatskappye, deur strenger wetgewing én die toepassing daarvan, groter verantwoordelikheid vir mynveiligheid moet aanvaar.

Die vakbond het ook ʼn beroep op mynbase gedoen om meer van hul wins en dividende in veiligheidstelsels en infrastruktuur te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gato ·

Dit is waar dat die Mynboubedryf elke jaar ‘n paar lewens eis. Dit word ook elke jaar aan die groot klok gehang deur die vakbonde en elke geval, of dit nou net ‘n besering was of iemand dood is word deeglik ondersoek en maatreels word in plek gesit om te voorkom dat dit weer gebeur. Wetgewing is al so streng dat dit moeilik raak om die werk gedoen te kry want alles draai om veiligheid by ‘n myn.
Die ironiese is dat daar elke jaar duisende mense in motorongelukke sterf en die regering het elke jaar ‘n groot plan waarvan niks kom nie. Verkeers konstabels bly korrup, lisensies word vervals, onpadwaardige voertuie is aan die orde van die dag en padreels is net vir sissies. Geen vakbond huil of dreig met optrede nie want daar is nie ‘n werkgewer wat gemelk kan word nie.
Net so word baie boere vermoor elke jaar en geen vakbond het ‘n probleem nie. Hulle is egter ook broodwinners en ‘n lewe in Afrika soos AMCU dit uitdruk.

Die vakbonde se kamstige besordheid is baie selektief

Danie ·

Dalk sal daar ook minder sterftes (en ongelukke ) wees indien almal die volgende leuse ‘n lewenswyse maak:
“My lewe en veiligheid is in die eerste plek my verantwoordelikheid.”

Nie die toesighouer sin
Nie die Bestuurder sin
Nie wie ook al sin nie, maar my eie verantwoordelikheid…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.