Amcu-president oor ‘luukse lewenstyl’

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, sê hy het hard gewerk om sy armoedige agtergrond te bowe te kom en dat hy niks van niemand gesteel het nie.

Mathunjwa het die uitlatings Maandagoggend gemaak by ‘n paneelbespreking oor mynwese by The New Age Business Briefing. “Mathunjwa kom van ‘n armoedige agtergrond en nou is dit ‘n sonde om een, twee en drie te hê sonder om iets te gesteel het,” het Mathunja in verwysing na homself gesê.

“Indien die ontbytgesprek oor my persoonlike lewe gaan, reël asb nog ‘n gesprek sodat ons my persoonlike lewe kan bespreek.” Dit was in reaksie op ‘n berig in The Star wat beweer dat Mathunjwa ‘n luukse lewe lei. Volgens die berig het Mathunja drie BMW’s wat in sy naam geregistreer is. Die waarde hiervan is glo sowat R900 000. Volgens die berig het Mathunjwa ook drie huise in sy naam geregistreer waaronder ‘n vier-ster-gastehuis.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, het op sy beurt die belangrikheid van verantwoordelike leierskap beklemtoon om die skadelike en uitgerekte staking wat sedert Januarie in die platinumgordel heers, te beëindig. Du Plessis het Mathunjwa uitgedaag om daaraan te dink of die voortsetting van die huidige staking in die naam van beter diensvoorwaardes wys is in die lig van die nadelige uitwerking daarvan nie alleen op AMCU-lede nie, maar ook op duisende ander in die omliggende gemeenskap.

“’n Verantwoordelike vakbond moet weet wanneer om sy lede aan te raai om terug te keer werk toe – wanneer die koste van ’n voortsetting van hul staking vir hulself en vir die gemeenskap veel hoër is as enige aanvanklike hoop vir ’n voordeel. Die pad vorentoe moet langs die weg van ’n sosiale en produktiwiteitskontrak, wat te goeder trou aangegaan word deur sowel vakbonde en werkgewers, gebaan word.”

Du Plessis was saam met Frans Baleni, hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers, Mathunjwa en dr. Thibedi Ramonja van die departement van mineralehulpbronne deel van die paneelbespreking.

Baleni en Mathunjwa het ook tydens die gesprek harde woorde gewissel nadat Baleni gesê het talle mynwerkers is sedert 2012 brutaal in die platinumgordel vermoor. Hy het gesê in 99% van die gevalle was Amcu die oortreders. Baleni sê ‘n vroulike mynwerker van die NUM se klere is uitgetrek waarna sy voor 10 000 mans geparadeer is. Mathunjwa het gesê Amcu veroordeel geweld. Hy beweer die polisie sweer saam met die NUM en doen niks om die geweld te keer nie.

Amcu-lede staak sedert 23 Januarie en eis ‘n basiese salaris van R12 500 per maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peter Says ·

Lekker ou “Gravy” en die res vrek van die honger, maar word aangehits om voort te gaan met die sinnelose staking.

AmY ·

Ja, jy ry drie luukse motors, het drie huise en ‘n luukse vierster-hotel, en die ander ‘gaan dood van die honger’. Jy is skuldig aan baie mnr Mathunjwa.

Maak jou maar gereed, jy gaan eendag moet rekenskap gee…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.