Amcu sê staking gaan voort

Amcu-lede wat nie Woensdag teruggekeer het werk toe nie. Foto: M Molaole/Sapa

Amcu-lede wat nie Woensdag teruggekeer het werk toe nie. Foto: M Molaole/Sapa

Amcu-leiers het beloof om voort te gaan met die verlammende staking in die platinumbedryf te midde van ‘n aantal werknemers wat begin terugkeer het werk toe.

Lonmin het werkers tot gister gegee om terug te keer werk toe. Die maatskappy het die stap geneem nadat hy ‘n SMS-opname gedoen het onder werkers en meer as 60% aangedui het dat hulle wil terugkeer werk toe. Lonmin wou egter nie bevestig hoeveel werknemers Woensdag teruggekeer het werk toe nie.

Jospeh Mathunjwa, president van Amcu, het egter gesê die staking gaan voort. “Slegs ‘n ooreenkoms kan die staking tot ‘n einde bring en die staking gaan voort tot so ooreenkoms bereik kan word.” Amcu het intussen ook aansoek gedoen om ‘n interdik te kry om mynmaatskappye te verbied om direk met sy lede te kommunikeer oor die werkgewers se nuwe loonaanbod. Die saak word Dinsdag aangehoor.

Die polisie het weer vanoggend busse wat werknemers na die myne aangery het, vergesel. Dit is ten einde die mynwerkers wat wil terugkeer werk toe se veiligheid te verseker.

Die vakbond Solidariteit sê die plofbare situasie in die platinumgordel vereis nou ferm optrede deur mynmaatskappye en die regering, wat nie moet toelaat dat geweldenaars met oortredings wegkom nie. Die vakbond het ’n beroep op mynmaatskappye gedoen om te verseker dat die skuldiges met volharding vervolg word na elke voorval waar ’n werkplek se dissiplinêre kodes oortree word of waar geweld gepleeg word. Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, dreig moord en intimidasie tans om die hervatting van produksie by verskeie platinummyne, na ’n maandelange stakingsperiode, te laat ontspoor.

“Werkers wat wil terugkom werk toe, is tans hul lewens nie seker nie. Vir produksie om te hervat, moét werkers wat na die werk wil terugkeer volle vertroue in hul werkgewers se beskermingsvermoë en ondersteuning hê. Op die oomblik werk die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en werkgewers saam om werkers se veiligheid by die werkplek te bevorder, maar die realiteit is dat werkers uiters kwesbaar is wanneer hulle na hul wonings terugkeer. Solidariteit versoek dat werkgewers dringend moet poog om, in samewerking met die SAPS, hul beskerming van werkers tot in residensiële gebiede uit te brei.”

Nathi Mthethwa, minister van polisie, het vroeër gesê dat anargie nie geduld sal word nie. Meer as 5 000 mense is die afgelope 20 maande in die platinumgordel in hegtenis geneem. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, het ontken dat die polisie huiwerig is om op te tree in lig van die Marikana-voorval in Augustus 2012.

Amcu-lede by Lonmin, Amplats en Implats staak sedert 23 Januarie en eis ‘n basiese salaris van R12 500.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.