Amcu soek terugkeerbonus van R3 000 per staker

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Amcu-lede betoog in Pretoria op 6 Maart 2014 Foto: Montsho/SAPA

Die platinummaatskappye het Saterdag gesê onderhandelingsgesprekke die afgelope week met die vakbond Amcu was konstruktief en sal na verwagting volgende week hervat.

Die werkgewers het Donderdag en Vrydag met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) vergader.

Lede van die vakbond staak al sedert 23 Januarie en dring aan op ʼn basiese salaris van R12 500.

Amplats, Implats en Lonmin het vroeër vandeesmaand onderskeidelik beginselooreenkomste met die vakbond bereik.

Amcu het daarna geskrewe reaksie met bykomende vereistes by elke maatskappy ingedien. Die maatskappye sê die bykomende eise kom neer op ongeveer ʼn ekstra R1 miljard gesamentlik.

Charmane Russell, woordvoerder vir die maatskappye, het Donderdag bevestig die bykomende eise sluit ʼn terugkeerbonus vir elke staker van R3 000 in, die terugtrek van kriminele klagte teen Amcu-lede wat tydens die staking in hegtenis geneem is en ʼn moratorium op afdankings.

Volgens die webwerf Platinum Wage Negotiations, wat deur die maatskappye opgerig is, kos die staking die werkgewers reeds meer as R23.6 miljard en die werknemers het reeds bykans R10.5 miljard in inkomste verloor.

Amcu was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

meisie ·

Kyk dit gebeur ook net in Suid Afrika!! Jy word beloon as jy staak, en die land se ekonomie in die gedrang bring en

AmY ·

Wonder wanneer gaan die Unie waaraan ek behoort my ook toelaat om te staak?

Ek werk al 24 jaar (vir dieselfde maatskappy) en vat net R5 000 ‘n maand huis toe NA aftrekkings?

Maar die Unie waaraan vanaf 1994 behoort het ons nog nooit toegelaat om te staak nie, want Banke mag nie staak nie.

Ek betaal hulle al 24 jaar, getrou elke maand, en hulle het nog nooit iets vir ons gedoen wat salarisse betref nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.