Amcu-stakers daag nie op vir MIV-behandeling nie

Stakende Amcu-lede. Foto: @ewnreporter op Twitter

Stakende Amcu-lede. Foto: @ewnreporter op Twitter

Meer as 1 000 stakende Amcu-werkers daag nie op vir hul maandelikse anti-retrovirale behandeling nie, volgens ʼn brief wat Lonmin aan die vakbond gestuur het.

Ben Magwara, uitvoerende hoof van Lonmin, het in ʼn geskrewe antwoord op die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) se onlangse petisie reageer.

Volgens Magwara help die maatskappy sy werkers met behuising, gesondheidsorg en ondersteuning met MIV/Vigs-behandeling.

“Ons moet dit egter onder Amcu se aandag bring dat nagenoeg 1 000 van sy lede wat aan die staking deelneem, nie by die klinieke aanmeld om anti-retrovirale behandeling te ontvang nie,” het Magwara gesê. “Ons is bekommerd dat hulle hul lewens en gesondheid in gevaar stel deur hul behandeling te onderbreek.”

Magwara het gesê die kwessies wat in die petisie geopper is, is hoofsaaklik sosio-polities en sosio-ekonomies van aard en nie haalbaar as deel van die onderhandelingsproses nie. “Ons reageer dus slegs op kwessies wat binne ons beheer is.”

Hy het gesê die maatskappy het ‘n bekostigbare loonaanpassing aangebied, maar Amcu het dit nie aanvaar nie. Magwara het voorts gesê mynwerkers in die platinum-sektor word die meeste in die land betaal relevant tot die aard van hulle werk.

Amcu-lede staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn basiese intreevlaksalaris van R12 500 per maand. Amcu het die werkgewers se loonaanbod van 9% verwerp. Die maatskappye het op sy beurt Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp.

Nagenoeg 80 000 lede neem aan die staking deel en het sedert die staking begin het, nog nie weer ʼn maandelikse salaris verdien nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veronica ·

Verstommend oor hoe hulle oorleef ? Ek byvoorbeeld kan nie een maand sonder my salaris oor die weg kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.