Amcu-staking by platinummyne duur voort

Veiligheidsbeamptes by die Amcu-betoging op 6 Maart 2014 in Pretoria Foto: @angelo2711, Twitter

Veiligheidsbeamptes by die Amcu-betoging op 6 Maart 2014 in Pretoria Foto: @angelo2711, Twitter

Die staking in die platinumbedryf duur voort nadat platinummynbase, die vakbond Amcu en die KVBA vroeër die week weer vergader het.

“Die maatskappye poog steeds om ʼn ooreenkoms aan te gaan waarby al die rolspelers sal baat om ʼn einde aan die staking te bring,” het Sue Vey, Lonmin se woordvoerder, ná die vergadering gesê.

Die vergadering is by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se hoofkantoor gehou.

Volgens Vey sal daar slegs vordering gemaak word om die loondispuut op te los as die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) die skikkingsooreenkoms van 9% sal aanvaar.

Johan Theron, die woordvoerder van Impala Platinum, het in ʼn verklaring gesê dat die rolspelers nog nie tot ʼn vergelyk kon kom nie. “Dit was ‘n voortsetting van die bemiddelingsproses in ʼn poging om die partye nader aan mekaar kry,” het Theron gesê. “Ons bly oop vir gesprekke, maar versoek Amcu om realistiese verwagtinge te hê en ʼn realistiese skikkingsooreenkoms te aanvaar.”

Mynbase het verlede week aangekondig dat die voortdurende staking reeds tot ʼn verlies van R10 miljard gelei het.

Amcu-lede staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Amcu het die loonaanbod van 9% verwerp.

Die maatskappye het Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.