Amcu-staking by Sibanye-myn is onwettig

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Amcu-lede (2013) Foto: nowry.co.za

Sibanye Platinum het bevestig lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Vrydag by sy Kroondal-myn in Rustenburg begin staak.

Die arbeidshof het intussen egter dié staking as onwettig en onbeskermd verklaar.

“Sibanye se interdik teen die Amcu-staking was suksesvol,” het die maatskappy bevestig.

Die staking hou met vervoerkwessies verband.

“Amcu mag, kragtens die uitspraak, nie deelneem aan die staking, of ander Kroondal-werknemers aanmoedig om aan die onbeskermde staking deel te neem nie. Daar word gevolglik van Amcu vereis om die staking onmiddellik op te skort.”

Jean Nel, hoof uitvoerende beampte van Sibanye Platinum, is tevrede met die uitspraak. “Kroondal-bestuur tree al sedert Januarie 2016 te goeder trou op in sy gesprekke met Amcu. Ons sal steeds met Amcu in gesprek bly om ʼn werkbare oplossing te vind.”

Amcu het die maatskappy in kennis gestel van sy voorneme om te staak gebaseer op ʼn stakingsertifikaat wat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) op 25 Januarie 2016 uitgereik het, oor ʼn dispuut wat verband hou met die verskaffing van vervoer vir werknemers.

Nel het vroeër gesê dit is teleurstellend dat Amcu met enige onnodige en moontlik skadelike staking kon begin oor ʼn kwessie waartoe Sibanye homself verbind het om op te los, veral gegewe die moeilike ekonomiese toestande in Noordwes. Amcu-lede het Donderdagaand begin staak.

Amcu het in Februarie gesê sy lid, Johanna Maila (38), is dood toe sy van die werk af op pad was huis toe. Sy het by Sibanye Platinum (wat in daardie stadium as Aquarius Platinum bekend gestaan het) gewerk. “Weens die myn se versuim om vervoer te verskaf, moes sy van alternatiewe gebruik maak en het ʼn rygeleentheid huis toe gekry. Haar ‘goeie samaritaan’ het egter slegte bedoelings gehad en sy is verkrag, geskend en haar kop ingeslaan voor haar liggaam in ʼn oop veld naby haar werk, gelaat is.”

Die vakbond Solidariteit het Amcu vroeër versoek om ʼn vreedsame staking te verseker. Gideon du Plessis, algemene sekretaris van Solidariteit, het gesê Amcu is in dispuut met Sibanye oor die aanstelling van ʼn buskontrakteur. “Amcu het Donderdagaand begin staak en reeds daardie aand verskeie voertuie met klippe bestook. ʼn Lid van Solidariteit is Vrydagoggend aangerand deur die stakers,” het Du Plessis gesê.

Die staking het die 48 uur-stakingskennisgewing oortree en word dus as onbeskermd beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grap ·

So staak hulle vir onbenullighede en more sluit die myn omdat dit nie meer winsgewend is in die ekonomiese swak tye

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.