Amcu-staking: “Meeste stakers wil werk”

Stakende Amcu-lede. Foto: @ewnreporter op Twitter

Stakende Amcu-lede. Foto: @ewnreporter op Twitter

Impala Platinum (Implats) het Vrydag gesê twee derdes van sy werkers het aangedui dat hulle bereid is om weer te werk.

“Ons is steeds besig om met ons werkers te kommunikeer, en behoort teen volgende week ʼn meer duidelike prentjie te hê,” het Johan Theron, Implats se woordvoerder, gesê. “Voorlopig wil ten minste twee derdes van die stakende werkers terugkeer werk toe ná die jongste aanbod.”

Lonmin het gesê hulle kommunikeer breedvoerig met hul werkers om seker te maak dat hulle die nuwe aanbod verstaan. “Ons stuur SMSe, beman ʼn inbelsentrum, adverteer in plaaslike koerante, en stuur boodskappe oor plaalike radiostasies in ʼn poging om die boodskap by werkers uit te kry. Dit sluit mense in wat naby die myne bly asook diegene wat teruggekeer het na hul provinsies of land van oorsprong,” het Sue Vey, Lonmin se woordvoerder, gesê.

Anglo American Platinum (Amplats) het Woensdag ook gesê hy sal sy jongste loonaanbod direk aan sy werknemers dwarsoor Suid-Afrika aanbied. “Ons het sedert verlede week ʼn reeks massavergaderings in Rustenburg gehou,” het Mpumi Sithole, woordvoerder van Amplats, aan Sapa gesê. “Ons het vandeesweek met vergaderings begin in die Oos-Kaap, Lesotho en Mosambiek om direk met die werknemers te gesels oor die gewysigde aanbod.”

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Dinsdag die jongste loonaanbod van die platinummaatskappye verwerp om die drie maande lange staking tot ʼn einde te bring.

Lede van Amcu staak al sedert 23 Januarie by die maatskappye se mynbedrywighede in Rustenburg in Noordwes en Northam in Limpopo. Hulle eis ʼn intreevlaksalaris van R12 500 per maand.

Intreevlak ondergrondse werkers sal teen Julie 2017 ʼn minimum kontantbetaling van R12 500 per maand of R150 000 per jaar verdien deur die werkgewers se gewysigde aanbod.

Sedert die staking begin het, het werkers meer as R7 miljard se inkomste verloor en die mynmaatskappye sowat R15.9 miljard. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.