Amcu-staking: Minister ontken hy het gesprekke “laat vaar”

Minister Ngoako Ramatlhodi (regs). Foto: GCIS

Minister Ngoako Ramatlhodi (regs). Foto: GCIS

Ngoako Ramatlhodi, minister van minerale bronne, het Dinsdag ontken dat hy en die spesiale taakspan loononderhandelinge in die platinumbedryf “laat vaar” het.

“Ek is oortuig ons het genoeg gedoen sodat die partye nou onafhanklik vorentoe kan beweeg,” het hy Dinsdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê. “Daar is ʼn wanvoorstelling dat ek die gesprekke verlaat het.”

Ramatlhodi het twee weke gelede ʼn taakspan op die been gebring in ‘n poging om die vier maande lange staking tot ‘n einde te bring. Hy het Saterdag gesê hy en die taakspan gaan uit gesprekke onttrek indien die partye nie teen Maandag ʼn ooreenkoms kan bereik nie.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie en dring aan op ‘n basiese maandelikse salaris van R12 500. Hulle het die werkgewers se vorige aanbod, dat werknemers teen Julie 2017 R12 500 sal verdien, verwerp.

Volgens die webwerf Platinum Wage Negotiations, wat deur die werkgewers opgestel is, het mynmaatskappye sedert die aanvang van die staking reeds meer as R21.8 miljard in inkomste verloor en die werknemers meer as R9,7 miljard.

American Platinum, Impala Platinum, en Lonmin het aangedui dat hulle ander opsies oorweeg. Dit kan die moontlike sluiting van sommige skagte insluit.  – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.