Amcu-staking: Nie-stakende myner met dooie diere gedreig

Argieffoto

Argieffoto

Thandi Modise, die premier van Noordwes, het Dinsdag gesê myners wat nie aan die voortslepende Amcu-staking deelneem nie, word aangeval en geteister.

Sy het gesê ʼn egpaar het onlangs wakker geword toe daar op hul huis geskiet is, en ʼn ander man se voertuig is aan die brand gesteek. Een van die werkers het dooie diere by sy voordeur gekry.

“Ons veroordeel die sinelose gewelddadige optrede ten sterkste,” het Modise in ʼn verklaring gesê. “Dit versterk glad nie die rede waarom mynwerkers staak nie, en dit kom eerder neer op onverdraagsaamheid.”

Die man, wie se voertuig aan die brand gesteek is, is ʼn 47-jarige inwoner van Thekwane. Die voorval het Dinsdag in die vroeë oggendure plaasgevind.

“Die egpaar op wie se huis geskiet is, werk albei by die Siphumelele One-skag. Daar is net na middernag op hul huis losgebrand. Die egpaar se voertuig is ook gedeeltelik tydens die aanval aan die brand gesteek. Die man is ʼn lid van die National Union of Mineworkers (NUM) en sy vrou is ʼn lid van die Worker’s Association Union (WAU),” het Modise bygevoeg.

Die man wat die dooie diere by sy huis aangetref het, is ook ʼn lid van die WAU. “Die man het Sondagaand ʼn oproep ontvang wat hom gewaarsku het om nie werkers aan te moedig om terug te keer werk toe nie. Hy het die volgende oggend om 05:30 ʼn dooie kat en hond by sy voordeur aangetref.”

Die premier doen ʼn beroep op die polisie om die persone, wat vir die “terreurdade” verantwoordelik is, op te spoor en agter tralies te kry. Sy het ook al die partye, wat by die staking betrokke is, aangemoedig om ʼn spoedige einde tot die staking te vind.

Amcu-lede staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn basiese intreevlaksalaris van R12 500 per maand. Amcu het die werkgewers se loonaanbod van 9% verwerp. Die maatskappye het op sy beurt Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp.

Nagenoeg 80 000 lede neem aan die staking deel en het sedert die staking begin het, nog nie weer ʼn maandelikse salaris verdien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Hoekom vra die mense nie beskerming van die grootkoppe vd vakbonde om hulle te beskerm nie hulle gee nie tikkie om vir die werkers dis hulle wat die verhooging soek korup almal want alles gaan for helle

Ria Maritz ·

Arme hond en kat – BARBARE tree so op, nie ordentlik, opgevoede mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.