Amcu-staking: Onderhandelings hervat vandag

Joseph Mathunjwa, president van Amcu tydens onderhandelinge by die KVBA Foto: Meggan Saville/SAPA

Joseph Mathunjwa, president van Amcu tydens vorige onderhandelinge by die KVBA Foto: Meggan Saville/SAPA

Onderhandelings tussen platinumprodusente en The Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) sal na verwagting Dinsdag hervat nadat ʼn nuwe loonaanbod aan stakende mynwerkers gemaak is.

Johan Theron, woordvoerder van Impala Platinum (Implats), sê die maatskappy het nog geen terugvoering van Amcu gekry nadat hulle verlede week ʼn nuwe aanbod gemaak het nie. “Dit is moeilik vir Amcu om oor die langnaweek met sy lede  te konsulteer. Ons sal moet wag en sien hoe die onderhandelings verloop wanneer ons van vanag af weer vergader.”

Anglo American Platimun (Amplats), Implats en Lonmin het ʼn nuwe loonaanbod aan Amcu voorgelê in ʼn poging om ʼn einde te bring aan die voortslepende staking in die platinumbedryf. Die nuwe aanbod sal beteken intreevlak- ondergrondse werkers se minimum kontantvergoeding sal geleidelik styg tot R12 500 teen Julie 2017.

Mpumi Sithole, woordvoerder van Amplats, sê haar maatskappy sal deel wees van die vergadering wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer sal word.

Die staking wat op 23 Januarie begin het, het reeds tot gevolg gehad dat werknemers meer as R6 miljoen in inkomste verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.