Amcu-staking: Paartjie in Noordwes aangeval

crime-scene-tapeVier mans het ʼn mynwerker en sy vriendin Woensdagaand in Noordwes aangeval, waarna hulle die paartjie se plakkershut aan die brand  gesteek het.

Brig. Thulane Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die aanval het in Thekwana naby Rustenburg plaasgevind en hou vermoedelik verband met die voortslepende Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu)-staking.

Die 38-jarige man, wat by Siphumele skag 1 van Anglo American Platinum (Amplats) werk, het bly werk, maar is glo gewaarsku om dit nie te doen nie.

“Die vier verdagtes het na die slagoffers se plakkershut gegaan en hulle aangerand terwyl hulle geslaap het,” het Ngubane gesê.

Albei is deur paramedici behandel ná die aanval. Dit is nie bekend in watter toestand die slagoffers is nie.

“Die voorval bewys weereens dat werkers geïntimideer word en slagoffers van misdaad word as hulle wil gaan werk,” het Ngubane bygevoeg.

Intussen het Thandi Modise, die premier van Noordwes, die aanval ten sterkste veroordeel.

“Sulke gruwelike en barbaarse optrede beklemtoon die behoefte om die uitgerekte staking te beëindig,” het Modise gesê. Sy het ʼn beroep op die polisie gedoen om die skuldiges in hegtenis te neem en het die gemeenskap gevra om inligting aan die polisie te verskaf sodat die beskuldigdes uitgewys kan word.

Die Amcu-staking is nou in sy agtste week. Amcu het op 23 Januarie by Lonmin, Implats en Amplats begin staak. Hulle eis ʼn intreevlaksalaris van R12 500 per maand. Pogings deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het ʼn dooiepunt bereik. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.