Amcu-staking: Platinummyne waarsku verskaffers

Argieffoto

Argieffoto

Die voortslepende staking deur Amcu-lede in die platinumbedryf het Anglo American Platinum (Amplats) en Lonmin genoop om oormagkennisgewings aan sommige van hul verskaffers te stuur.

Oormagkennisgewings word uitgereik in omstandighede waarteen niemand voorsorg kan tref nie en wat die nakom van verpligtinge onmoontlik maak.

“Ek kan bevestig dat ons oormagkennisgewings aan sommige van ons verskaffers gestuur het,” het Mpumi Sithole, ʼn woordvoerder van Amplats, gesê.

Sy het gesê dat van die maatskappy se verskaffers steeds in staat is om goedere en dienste soos normaalweg te verskaf, en dat hulle nie kennisgewings ontvang het nie.

Die SAUK het Woensdag berig dat Lonmin ook oormagkennisgewings aan 13 van sy verskaffers gestuur het.

“Meeste van die verskaffers voel die volle impak van die staking. Hulle kan nie tans aan die myn goedere verskaf nie, aangesien ons, weens die feit dat ons nie myn nie, nie bestellings plaas nie” het Mpho Mochekela, ʼn goederebestuurder by Lonmin, aan die uitsaaier gesê.

Mynbase het verlede week aangekondig dat die staking reeds tot ʼn verlies van R10 miljard gelei het.

Amcu-lede staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Amcu het die loonaanbod van 9% verwerp. Die maatskappye het Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.