Amcu-staking: Polisie begelei busse met werkers na myne

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie van Noordwes het Woensdagoggend busse met mynwerkers, wat nie aan Amcu se voortslepende staking deelneem nie, na myne in die platinumgordel vergesel.

“Ons vergesel busse om die mynwerkers wat wil terugkeer werk toe, te beskerm,” het brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. “Alles is in plek. Die polisie is daar buite en doen hulle werk.”

Meer as 80 000 lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Implats en dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500.

Drie mynwerkers is die afgelope paar dae vermoor voor ʼn stakingsperdatum wat Lonmin vir Woensdag bepaal het. Lonmin het aan die begin van die maand ‘n SMS aan sy werkers gestuur om deur middel van teksboodskappe en e-pos te bepaal of sy werkers bereid is om terug te keer werk toe. Sue Vey, woordvoerder van Lonmin, het aan City Press gesê dit is dringender vir Lonmin om vervaardiging weer aan die gang te kry as vir Impala of Amplats. Impala het steeds sy bedrywighede in Zimbabwe en Amplats se grootste myn in Suid-Afrika is steeds aan die gang.

Betogers van die Lonmin-myn het ook Dinsdag winkels in Marikana afgebrand.

Mynmaatskappye het al nagenoeg R14 miljard se winste verloor sedert die staking begin het. Werkers het nagenoeg R6 miljard se inkomste verloor.

Amcu het ʼn aanbod deur die drie werkgewers, om die R12 500 teen 2017 te behaal, verwerp. Mynbase het intussen direk met die werknemers begin konsulteer en Lonmin sê talle werknemers het vandeesweek vir werk opgedaag. Volgens ʼn bedryfswoordvoerder het ʼn paar van die myners by Amplats ook teruggekeer werk toe. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.