Amcu-staking: “Stakers hou inwoners gyselaar”

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

Pieter Malan, die woordvoerder van Rustenburg se Sakekamer, sê die 80 000 stakende Amcu-mynwerkers hou 700 000 inwoners van die gebied gyselaar met die voortslepende staking by platinummyne naby die dorp.

“Die gevolge van die staking word nou op verskillende terreine gevoel. Werkers direk verbonde aan die myn voel die gevolge van die staking eerstehands, en van hulle af kring dit soos ʼn veldbrand uit,” het Malan aan Maroela Media gesê.

Hy het verduidelik dat werkers reeds R1.7 miljard se lone verloor het sedert lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) op 23 Januarie begin staak het. “Werkers wat wil werk, word huis toe gestuur en verplig om verlof te neem, want daar is nie werk om te doen nie. Dit het ʼn groot impak op die dorp se ekonomie. Mynbou is verantwoordelik vir 70% van die dorp se ekonomie, en die staking het dus ʼn geweldige impak op die gesonde ekonomiese funksionering van die dorp,” het hy gesê.

Hy het gesê besighede wat met Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implants) besigheid doen, word ook beïnvloed en van dié besighede moes hul deure sluit.

“Besighede in die dorp kry ook swaar, want inwoners koop net die broodnodige huishoudelike items. Restaurante wat altyd besig was, trek noustrop, want mense kan nie bekostig om uit te eet nie.”

Inwoners van Rustenburg stroom ook na die pandjieswinkels in die dorp met huishoudelike items wat hulle vir kontant wil ruil sodat hulle kos kan koop.

Maroela Media het Maandag berig laerskole in die dorp moes met voedingskemas begin, en banke het in een week nagenoeg 300 voertuie teruggeneem van mense wat nie hul paaiemente kan betaal nie. Maroela Media is ook bewus van een geval waar ʼn mynwerker selfmoord gepleeg het weens finansiële druk.

Mynbase het in Maart aangekondig dat die staking reeds tot ʼn verlies van R10 miljard by die myne gelei het.

Amcu-lede staak by Lonmin, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats). Hulle dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Amcu het die loonaanbod van 9% verwerp.

Die maatskappye het Amcu se gewysigde eis, dat die R12 500 oor vier jaar behaal kan word, verwerp.

Intussen het ʼn groep inwoners ʼn aanlynpetisie van stapel gestuur in ʼn poging om die staking te beëindig. Die groep bekommerde inwoners doen dit saam met ʼn prokureur van die dorp. Volgens die prokureur kort hulle nagenoeg dieselfde hoeveelheid handtekeninge op die petisie as die hoeveelheid stakende mynwerkers, dus 80 000, om ʼn einde aan die staking te kan bring. Hulle het verlede week met die petisie begin en teen Dinsdag het 1 852 persone die petisie onderteken. Klik hier om die petisie te onderteken.

Lees ook:
Amcu-staking: Rustenburg-besighede sluit; voedingskemas in skole begin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Louise ·

3 van ons werkers by n bekende bottelstoor in Marikana woon in Wonderkop. Na bewering het AMCU verteenwoordigers gister 7 April 2014 vyf mense wat glo oppad was werk toe vermoor.

alet ·

Goeie voorstel as die mynwerkers nie wil werk en wil dood gaan van die honger vlieg hulle almal na die Sahara woestyn daar kan hulle niemand leed aan doen. Daar is nog minder werk vir hulle want hulle wil nie werk en as hulle terug gaan dan wil hulle nog al die maande van niks doen ook betaling he onnosel verby

Gerhard Engelbrecht ·

Wanneer jy beding vir ‘n verhoging, dan moet jy in ‘n wins situasie wees,dws jy moet jou salaris plus ekstra geld kry, Definitief nie drie maande se salaris terug gee en jou gesin benadeel, kar verloor en krepeer van honger, ander mense se eiendom beskadig en ligaamlike skade berokken nie.Verhoging beteken verbetering van vorige omstandighede en nie onverdiende verlies nie. Jou unie moet jou laat voordeel trek,geen een betaal tog om homself te laat benadeel,maar tog laat hulle die unie toe om nie net hulle, maar ook die res van die gemeenskap gruwelik te benadeel, om jou kar en huisvesting te verloor, onskuldige kinders en vrouens honger te laat slaap, meubels terug te gee vir skuld plekke, en erger om jou kinders honger skool toe te stuur is seker maar die moeite werd, sodat jou unie jou in sy politieke magstryd kan misbruik. Hulle kry geld en is definitief nie oor jou geld gepla. dink so daaroor, as hulle jou in wins wou bring, sou hulle al bogenoemde toegelaat het? ????? vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.