Amcu-staking verby; ooreenkoms onderteken

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Platinumvervaardigers en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Dinsdag ʼn skikkingsooreenkoms onderteken.

Charmane Russell, woordvoerder van Lonmin, het Dinsdag aan verslaggewers buite die maatskappy se kantoor in Melrose Arch, noord van Johannesburg, bevestig die ooreenkoms is onderteken.

Werknemers sal na verwagting Woensdag terugkeer werk toe.

Lede van Amcu het sedert 23 Januarie begin staak en aangedring op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Volgens die webwerf Platinum Wage Negotiations, wat deur die werkgewers opgestel is, het die staking die maatskappye reeds meer as R24 miljard gekos en die werknemers het bykans R10.7 miljard aan inkomste verloor.

Volgens ʼn verklaring wat deur die platinumvervaardigers uitgereik is, tree die onderskeie ooreenkomste met die maatskappye terugwerkend van 1 Julie 2013 vir Amplats en Implats in werking en 1 Oktober 2013 vir Lonmin. Die ooreenkomste is tot 30 Junie 2016 geldig.

Werknemers wat tans minder as R12 500 per maand verdien, sal ʼn jaarlikse verhoging van R1 000 per maand ontvang vir die eerste twee jaar van die ooreenkoms. Dieselfde verhoging sal ook by Lonmin geld vir die derde jaar. By Amplats en Implats sal werknemers in die derde jaar bykomend R950 per maand verdien.

Werknemers wat tans meer as R12 500 per maand verdien, of wie se basiese koers dié bedrag sal bereik deur die loop van die ooreenkoms, sal ʼn verhoging van 8% ontvang vir die eerste jaar van die ooreenkoms en 7.5% daarna.

Die uitleefbonus bly dieselfde by Impala. Dié bonus sal in die eerste jaar by Lonmin verhoog en dan vir die volgende twee jaar dieselfde bly. Die uitleefbonus styg met 6% in die eerste jaar vir werknemers van Amplats en sal daarna dieselfde bly.

Byvoordele en toelatings sal gelykstaande aan die inflasiekoers verhoog.

Alle werknemers sal, binne een week vandat hulle terugkeer werk toe, die agterstallige betaling van die verhogingsdatum in 2013 tot 22 Januarie 2014 ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.