Amcu-staking: Voertuie aan die brand gesteek; staking duur voort

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Drie voertuie is Woensdagoggend by Impala Platinum (Implats) se Rustenburg-myn aan die brand gesteek.

Alice Lourens, Implats se woordvoerder, het die voorval aan Sapa bevestig en gesê niemand is tydens die voorval beseer nie. Die voertuie was op die myn se perseel geparkeer.

Maroela Media het vroeër berig dat polisie van Noordwes Woensdagoggend busse met mynwerkers, wat nie aan Amcu se voortslepende staking deelneem nie, na myne in die platinumgordel vergesel het. “Ons vergesel busse om die mynwerkers wat wil terugkeer werk toe, te beskerm,” het brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, gesê.

Lonmin het ʼn stakingsperdatum vir Woensdag bepaal, en gesê dat herstrukturering geïmplementeer kan word wat tot werksverliese kan lei. Die sperdatum is nie op Implats of Amplats van toepassing nie. Lonmin wou nie kommentaar lewer oor hoeveel werknemers vir werk opgedaag het nie. “Ons gaan nie stap-vir-stap insae gee oor die hoeveelheid mense wat terugkeer werk toe nie, want dit kan geweld aanhits,” het Sue Vey, Lonmin se woordvoerder, aan Sapa gesê. “Mense het wel opgedaag vir werk, maar daar is voorvalle van intimidasie aangemeld.”

Lourens het bevestig dat bedrywighede by Implats steeds gestaak is. Amplats was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Nagenoeg 80 000 lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Amplats en Implats en dring aan op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Die jongste aanbod wat deur Amcu verwerp is, behels ʼn salarisverhoging van tussen 7.5% en 10% waarvolgens werkers teen 2017 R12 500 sal verdien.

Sowat 5 000 mynwerkers het Woensdag by die stadion in Marikana saamgedrom en geweier om terug te keer werk toe. Joseph Mathunjwa, Amcu se president, het die stakers daar toegespreek. Hy het gesê die beskermde staking sal voortduur totdat ʼn skikking bereik word.

Mathunjwa het gesê dit wat die vakbond eis, is ʼn fraksie van wat mynbestuurders ontvang. “Mynwerkers in Australië verdien R80 000 per maand en hul werktoestande is baie beter as waaraan julle onderwerp word,” het hy gesê.

Hy het Amcu-lede versoek om die SMSe wat die werkgewers gestuur het om hulle te versoek om terug te keer werk toe en die jongste aanbod te aanvaar, te ignoreer. Hy het stakers versoek om kalm en gedissiplineerd op te tree tydens die staking. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Hoekom gaan werk hulle nie oorsee nie as hulle daar meer geld gaan kry .Dis nie die werkers nie maar die Vakbond leiers gee hulle die trek pas en die Kaap is hollands

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.