Amcu-werkers sal nie terugkeer na ‘onveilige’ Beatrix-myn

Joseph Mathunjwa, leier van Amcu (Foto: Timothy Bernard, ANA)

Lede van die vakbond Amcu het Vrydag gesê hulle sal nie terugkeer om ondergrond by die Beatrix-groudmyn in die Vrystaat te werk voor die veiligheidskwessies opgelos is nie.

Sibanye-Stillwater, die eienaar van die myn, het bevestig dat 955 werkers Vrydagoggend veilig na die oppervlak gebring is nadat ʼn kragonderbreking tydens ʼn hewige storm Woensdagaand ʼn hysbak se werkverrigting beïnvloed het.

Die maatskappy het reeds besluit om bedrywighede, 2.2 km ondergronds, by die myn tot Maandag op te skort om die werkers die kans te bied om traumaberading te ontvang en ten volle te herstel.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het egter gesê die vakbond wil seker maak of Sibanye-Sillwater aan alle maatreëls voldoen by Beatrix. “Geen werker moet Maandag aanmeld nie. Hulle families is net soveel soos die broodwinners getraumatiseer. Ons moet hulle voldoende tyd bied om traumaberading te ontvang,” het Mathunjwa aan verslaggewers by die myn gesê ná ʼn marathonvergadering met Sibanye-Stillwater se bestuur en die regering.

“Ons versoek ook dat die oudit wat die minister onderneem ʼn volskaalse oudit by die myn insluit. Ons eis nuwe kragopwekkers. As Sibanye ʼn myn in Amerika kan koop, dan kan dit sekerlik tog nuwe kragopwekkers bekostig.”

Mathunjwa het gesê die myn moet ook ventilasie kan verskaf tydens ʼn noodgeval wanneer werkers ondergrond vasgekeer is, veral Beatrix-myn, omdat dit vlak en hoogs gekonsentreerde metaangas bevat.

Mathunjwa het gesê die vakbond eis ook ʼn betaling van R3 000 vir elkeen van die werkers wat ondergrond vasgekeer is as vergoeding en vir beradingsuitgawes.

James Wellsted, hoof van beleggersverhoudings by Sibanye-Stillwater, het egter die eis van R3 000 van die hand gewys en gesê die myn verskaf reeds traumaberading aan die werkers.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne (Foto: Siphelele Dludla/ANA)

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het Vrydag gesê die regering sal nie ʼn artikel 54-werksopheffingsertifikaat aan Beatrix-goudmyn uitreik nie. Zwane het gesê die voorval sal ondersoek word voor bedrywighede kan hervat en werkers kan terugkeer.

Hy het met vakbonde en mynbestuur vergader. “Almal in die vergadering het ingestem dat ons die behoorlike proses sal volg om almal se veiligheid te verseker en dat die myn toegelaat sal word om bedrywighede te hervat sodra hierdie prosesse afgehandel is. Ek wil nie spekuleer oor die oorsaak van die voorval nie,” het Zwane gesê.

“Ons ondersoek die kwessie van nalatigheid, kragopwekkers, infrastruktuur en enige ander kwessie wat van toepassing is. Ons kan nie ʼn artikel 54-sertifikaat uitreik nie, omdat ons weet daar was ʼn storm in die gebied.”

Zwane het gesê die myn het die regte besluit geneem om nie die werkers deur ʼn alternatiewe ontsnappingsroete te red nie, want dié roete het giftige gasse en “hoë metaanvlakke” bevat.

Hy het gesê die myn sal tydelik gesluit bly tot ʼn ondersoek deur die inspektoraat vir minerale hulpbronne afgehandel is. Dit kan tot vier dae duur.

James Wellsted, hoof van beleggersverhoudings by Sibanye-Stillwater (Foto: ANA)

Wellsted het gesê al die besluite wat die maatskappy geneem het, was in die belang van die veiligheid van die werkers. “Ons werknemers se veiligheid is ons eerste prioriteit. Die doel van [Vrydag se] vergadering was nie om ʼn ooreenkoms te bereik nie. Ons moet behoorlike prosesse volg en dit kan meer as een vergadering behels. Ons het met die vakbond en die minister ooreengekom dat die proses sy gang sal gaan en ʼn besluit sal daarna geneem word,” het Wellsted bygevoeg.

“Ons het reeds die myn tot Maandag gesluit om die werknemers die kans te bied om van die ervaring te herstel en omdat die myn metaangas bevat. Ons moet seker maak alle gasse het ontsnap ná die kragonderbreking. Ons sal graag bedrywighede Maandag wil hervat. Soos die minister gesê het, daar is nie in hierdie stadium ʼn artikel 54-sertifikaat uitgereik nie, so die inspekteurs kan ʼn oudit doen en ʼn besluit neem.”

Wat betref die vergoeding, het Wellsted gesê Sibanye bied reeds traumaberading aan die werkers en hul families, “maar die kwessie sal aangeroer word”.

Sommige familielede van die mynwerkers, wat gered is, het Sibanye veroordeel dat inligting oor die gesondheid en veiligheid van hul geliefdes tydens die reddingsoperasie weerhou is. Hulle het gesê die maatskappy het geen empatie met hulle nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gesiggie ·

Daar sal n eis ingestel word- R3000.00 x 955 werkers ? dit nie n klein bedrag geld, maar gebruik dit eerder om meer veiligheid te skep in die myn, vir n volgende keer as so iets gebeur… daai mense moes in n toestand gewees het- en kan glo dat hul vir berading moet gaan . Ek dink hul elkeen verdien n week verlof met betaling …

boesman ·

Dis nie n roomys fabriek nie. As jy nie bereid is om die kanse te vat nie gaan werk by checkers om rakke te pak. Die myne doen baie om mense te beveilig en hulle sorg goed vir hulle mense. Die so genaamde DMR is elke week op die skag hoekom hey hulle dit nie voorsien nie. Want hulle is onbevoeg. Maak die myn toe dan sien ons hulle.

Boerseun ·

Jip. Terwyl hulle so aan die trauma is het hulle darm nog tyd gehad hom te dink aan hoeveel veegoeding daar geies kan word. Een hoeveel gaan Eskom opdok siende dat die ongelukkigheid rondom hulle eie verkose regering nie n artiekel 54 notifikasie wil uitreik nie? tap die kan leeg as jy die kaans kry

GM ·

Ek sien almal se punte in, maar van ‘demand-demand’ speel, kan duisende hul werk ook verloor. Veiligheid moet top prioriteit wees, maar die vakbonde moet nie gaan staan en onredelik wees net om ‘n punt te bewys nie. En wou elkeen van die 955 se familielede persoonlik gekontak geword het? Was daar nie mediadekking nie? Of iets gesê op sosialemedia nie? (My vraag is uit onkunde uit, want ek het slegs die berigte op MM gelees).

SjN ·

Hulle is bereid om hul dienste aan te bied teen vergoeding, ontvang gratis berading, gaan die R3000 hulle emosioneel regkry, daar is werkloses wat smag na n werk.

Nita ·

Die krag is uitgeslaan deur: an act of God. Wie moes dit gekeer het. Die unies moet ophou droogmaak. Hulle het “single handidly” gesorg vir die meeste werkverliese in die land. Niemand is dood nie. Niemand is beseer nie. So stop julle nonsens UNIES en laat die mense werk! Julle wil net ” shine” vang sodat julle meer lede kan werf en self blinker motors kan ry.

Corrie ·

Die unie se vergeet as hulle ondergrond strike en mense teen hulle wil ondergrond hou. Die unie se moet by kom. Wees dankbaar as julle lede nog werk het

Herman ·

Myne is volgende wet verplig om rugsteun toerusting in plek te hê sou daar ‘n kragonderbreking wees.

Willie Horne ·

Sommige vakbonde leer nie kort voor lank verminder die myn personeel soos by Rustenburg dan is dit die werkers wat verloor en die vakbond “fat cats” verloor niks

Chris Ws ·

‘n Myn is en sal ALTYD ‘n gevaarlike plek wees om in te werk.Die mynbestuur het geweldige streng wetgewing om na te kom sover dit veiligheid betref maar dit is ONMOONTLIK om ‘n ondergrondse werksfront in ‘n kantoor om te skep.
In die’ geval het die bestuur die regte besluite geneem en almal is veilig na die oppervlak gebring.Die gebrek aan werkende nood kragopwekkers IS ‘n fout en sal moet reg gestel word.Die unies wil egter nou net probeer muntslaan uit die situasie.Hulle skep meer probleme as wat hulle help.
En mense wat nie ondergrond in ‘n myn gewerk het nie moet liefs maar stilbly want hulle weet NIKS.’n Myn is nie ‘n pretpark nie.

Lollie ·

Die veiligheids maatreels moet in plek wees. D w s indien met kragonderbrekings ens. Alle maatskappye fabrieke myne ens het mos hul veiligheidsreels ens in plek. Behoort so te wees…..

piper ·

as die myn nou toe is tot die ondersoek afgehandel is, gaan die werkers nog betaal word. laat die mense wat die ondersoek aanvra hulle betaal.

Eish ·

KI is oppad, Dan sal nie eens ventilasie nodig wees nie. KI – Kunsmatige intelligensie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.