Amerikaanse afslaer in vervoering oor Oom Louis se motorversameling

(Foto: Verskaf)

“’n Baie seldsame vonds op ’n skaal wat ons selfs nog nie in die VSA teëgekom het nie.”

So bestempel Barrett-Jackson, ’n Amerikaanse motorveilingshuis, se hoofafslaer die Suid-Afrikaner wyle Louis Coetzer se voertuigversameling waarop daar verlede jaar toevallig in ’n skuur op ’n afgeleë stuk grond naby Barkly-Oos in die Oos-Kaap afgekom is.

Die motors word later vandeesmaand opgeveil.

Joseph Mast, ’n internasionale afslaer en eienaar van Mast Auctioneers in die Amerikaanse deelstaat Ohio, sê drie kenmerke van dié skuurvonds is noemenswaardig vanuit ’n wêreldmarkperspektief.

“Eerstens is daar die skaal daarvan,” verduidelik Mast tydens ’n besoek aan Suid-Afrika.

“Wanneer versamelaars aan skuurvondse dink, dink hulle aan een of twee motors. Af en toe kom Barrett-Jackson skuurversamelings teë wat uit sowat 25 motors bestaan, maar koerantopskrifte ontplof daardie uiters seldsame kere wanneer vergete versamelings van 50 tot 100 motors ontdek word. Hierdie Suid-Afrikaanse skuurvonds is baie groter.”

Maroela Media het vroeër berig altesaam 150 motors is in Mei verlede jaar in die afgeleë skuur gevind.

(Foto: Verskaf)

Mast sê wat Coetzer se skuurversameling selfs meer ongelooflik maak, is die manier waarop hulle bewaar is. “Motors wat deel van ʼn skuurvonds is, is geneig om op versteekte buitelugplekke ontdek te word. Hulle is dikwels net doppe, waarin wilde diere nes gemaak het en plante deurgroei.”

Dit is egter nie die geval met Coetzer se versameling nie, vertel Mast. “ʼn Dik laag stof lê miskien op die motors, maar vir ʼn onbekende aantal jare is hulle binnenshuis geberg, beskerm teen die elemente in die gebou waarin hulle gevind is by die binnelandse ligging van byna 1 800 m bo seespieël.

“Dit is daarom dat hierdie motors moontlik een van die bes bewaarde skuurvondse kan wees wat ooit op die mark gebring is,” reken Mast.

Hy sê die unieke bewaring van Coetzer se versameling gaan heel waarskynlik weerspieël word in die pryse wat hulle later vandeesmaand op die veiling gaan behaal.

Creative Rides Classic & Collectables Auctions is verantwoordelik vir die tien dae lange aanlyn veiling wat op 25 Maart begin.

Joff van Reenen, hoofafslaer by Creative Rides Classic & Collectables Auctions en een van die min gelukkiges om die hele versameling in persoon te kon sien, sê Mast het ongeëwenaarde ervaring en skerpsinnigheid wanneer dit by klassieke voertuie kom, “want daar is geen groter globale veilingsverhoog vir die versamelaarsmotormark as Barrett-Jackson nie.

(Foto: Verskaf)

“Sy beoordeling van die unieke bewaringstoestande van die voertuie in Oom Louis se skuurvonds staaf ons mening dat die versameling histories belangrik en betekenisvol vir die internasionale versamelaarsmotormark as geheel is.

“Hierdie motors is ook ongetwyfeld waardevol,” sê Van Reenen.

Kevin Derrick, uitvoerende hoof van Creative Rides Classic & Collectables Auctions, sê die Lost Barn Find Collection-veiling “sal Oom Louis en sy gesin se lewenslange passie vir die Mercedes-Benz-versameling – soos voorheen – uitlig saam met ’n allemintige wye reeks Amerikaanse, Europese, VK en Suid-Afrikaanse klassieke motors.

Derrick sê motors uit die veilingsversameling wat reeds aansienlike belangstelling van voornemende kopers lok, sluit in ʼn klomp skaars Mercedes-Benz-motors uit die 1950’s, 1960’s en 1970’s, Chevrolet Novas, Mercedes-Benz-bakkies, Volvo-koepees, Cadillac DeVilles en Ford Fairlanes.

Derrick sê 50 monster-V8-enjins – en selfs ’n V12 of twee – is intussen by die veilingskatalogus gevoeg.

Die Louis Coetzer Lost Barn Find Collection is vanaf Maandag 25 Maart om 08:00 tot Woensdag 3 April om 20:00 op die Creative Rides-app beskikbaar.

Die app is gratis en op iOS en Android beskikbaar. Die app is die enigste platform waarop ʼn bod aanvaar sal word en die bodgeldeenheid wêreldwyd sal in Suid-Afrikaanse rand wees.

Suksesvolle bieërs sal op 4 April in kennis gestel word.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Goldy ·

Eks bly blootstelling is aan n globale mark, dit sal maak dat die familie baie hoër pryse kan behaal, want die plaaslike mark is te klein en suid afrikaners te platsak om die werklike waarde van hierdie versameling te kan absorbeer.

Dries ·

Stem saam, Goldy. Hoop daar is n verslag na die veiling, sal graag wil weet wat die bot-pryse was.

Jacques ·

Blootstelling aan die internasionale mark is ‘n probleem, want so verlaat ons kultuurskatte ons land. Vanweë die swak rand en plaaslike wette en burokrasie, kom bitter min klassieke motors die land binne. So is Suid Afrika reeds grotendeels dreineer van klassieke motors. Dis werklik jammer dat wetgewing nie die uitvoer daarvan beperk nie. Nes hulle die invoer van baie soorte motors berperk of verbied. Ek verstaan dat afslaers en verkopers beste pryse wil kry, maar dit wat die land aan kulturele waarde verloor kan nie in geld gemeet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.