Amerikaner uit SA verban oor bedreigde vetplante

hof-hamer

Argieffoto

ʼn Amerikaner is ʼn opgeskorte vonnis en boete opgelê en uit Suid-Afrika verban nadat hy met bedreigde vetplantspesies in sy besit betrap is.

Kalman Kaminar is in die Kaapstad-landdroshof gevonnis nadat hy skuldig bevind is op twee aanklagte van die onwettige besit van bedreigde vetplante, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê.

Hy is tot twee jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer in die tyd aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie.

Hy is ook ʼn boete van R500 000 opgelê na ʼn beslagleggingsbevel waarvolgens R250 000 in die rekening van die batebeslagleggingseenheid en R250 000 aan Cape Nature betaal moet word. Kaminar is verder ook verbied om weer na Suid-Afrika te kom.

Volgens Ntabazalila is Kaminar en sy toergids op 6 November verlede jaar naby Moordkuil aangekeer is. Daar is 354 vetplante in Kaminar se besit gevind, waarvan 337 beskermde spesies was. Nog plante is gevind by die gastehuis in Robertson waar Kaminar tuisgegaan het.

Tydens nadere ondersoek is vasgestel dat Kaminar op 29 Oktober in die land aangekom het vir ʼn begeleide toer van vetplante. Sy geregistreerde adres was in Seepunt en hy en die toergids het na die Wynland-streek vertrek.

Volgens Ntabazalila het Kaminar ʼn gedetailleerde reisplan gehad met verskeie stopplekke in die gebied waar die plante aangetref word. Daar was ook gedetailleerde inligting oor waar die plante gekry kan word, plekname en die GPS-liggings van spesifieke plante.

Hy het ʼn lys van vyf bladsye gehad getiteld “Kal Kaminar – Never Enough Cactus. Hunting Fall Plant Sale 2019 Labels” waarop verskeie Suid-Afrikaanse vetplante gelys was.

Staatsaanklaer adv. Aradhana Heeramun het ter strafverswaring van vonnis aan die hof gesê dat Kaminar verbind word aan ʼn kwekery genaamd “Never Enough Cactus” in Los Angeles, Kalifornië. Hy het ook ʼn Facebook-blad met dieselfde naam gehad.

“Onwettige handel in wilde fauna en flora is een van die vyf grootste aktiwiteite in die wêreld saam met onwettige dwelmhandel, die smokkel van onwettige vuurwapens en mensehandel.” Volgens Heeramun is daar ʼn toename in sake rakende die onwettige handel in vetplante.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

1 word verban terwyl 5y miljoen onwettige immigrante al jare maar net bly en bly en bly en bly in SA.

Aries ·

Watter tipe staatsaanklaer is dit wat vir n beskuldige strafVERSAGTING vra- dit moet definitief wees strafVERSWAREND

Nico Strydom ·

Dagsê Aries
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Aries ·

Nes ek gedink het-Maroela het darem vinnig sy bewoording van strafversagting na strafverswarend verander

PieterP ·

Wat van die duisende bome wat afgekap en beskadig word sodat toeriste beeldjies huistoe neem? Klein sondetjies en groot sondes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.