Amnestie vir agterstallige biblioteekboeke

Foto: Stad Kaapstad

Kaapstad en Ekurhuleni bied amnestie aan enigiemand met ʼn agterstallige biblioteekboek, om dit hierdie komende week terug te bring, as deel van die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek.

Die Stad Kaapstad bied amnestie aan enigiemand met agterstallige boeke in hul besit om meer as 20 000 boeke, ter waarde van nagenoeg R2 miljoen, terug te bring, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, Sondag gesê.

Kaapstad se biblioteek- en inligtingsdiens is desperaat om die duisende items terug te kry. Daar is tans meer as 20 000 items, insluitend boeke, studiegidse en DVD’s wat agterstallig is by die stad se verskeie biblioteke.

Die top-20 lys van items is kinderboeke soos The Three Little Pigs, Frozen, Goldilocks and the Three Bears en Die Lelike Eendjie, asook Graad 12-studiegidse vir vakke soos wetenskap, rekeningkunde en aardrykskunde. Die mobiele biblioteekdiens word die meeste hierdeur geraak, met nagenoeg 2 500 agterstallige items.

“Wanneer die materiaal nie teruggebring word nie, hou die provinsie die stad aanspreeklik vir die verliese. Ons is besig om ons verliese vir 2017 te finaliseer en in hierdie stadium lyk dit of meer as 20 000 items, met ʼn geraamde waarde van R1,8 miljoen, nog uitstaande is,” het Smith verduidelik. “Personeel het al ure spandeer om die persone op te spoor wat die items uitgeneem het. Buiten die feit dat dié tyd eerder doeltreffend aangewend kon word aan direkte dienslewering, beteken dit ook dat ander persone ontneem word van die voorreg om die betrokke produkte te geniet.”

Gebruikers met agterstallige boeke kan dit tydens Biblioteekweek (19 – 24 Maart) terugbring sonder enige boetes.

Dora Mlambo, burgemeesterskomiteelid vir Ekurhuleni, het ook gesê gebruikers sal nie enige boetes hoef te betaal indien hulle agterstallige items tydens Biblioteekweek terugbring nie.

Hierdie jaar se tema is “Biblioteke: Hart van die gemeenskap”. Die tema het ten doel om die fokus te plaas op die idee dat biblioteke aan die gemeenskap behoort en dat dit die kernpunt van kennis is vir gemeenskapsontwikkeling, het Mlambo verduidelik. “Biblioteke is soveel meer as net boeke; dit reflekteer en dien gemeenskappe volgens hul behoeftes. Ons maan biblioteekgebruikers om alle agterstallige materiaal terug te besorg sodat ander ook daaruit voordeel kan trek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.