Amper 100 skole in KZN geplunder

(Argieffoto: Unsplash)

Kommer heers oor die gereedheid van skole in KwaZulu-Natal om volgende week vir die derde kwartaal te heropen nadat ongeveer 100 skole sedert verlede week deur misdadigers verniel en geplunder is.

Volgens die departement van basiese onderwys is skole in uMgungundlovu, Pinetown, Umlazi, Harry Gwala, Ugu, Kwamashu, Inanda, Ntuzuma, Tongaat, Verulam, Mngeni, Phoenix, Kranskloof en Amajuba geteiken. Altesaam 99 skole en onderwyssentrums het deurgeloop.

Maroela Media het aanvanklik berig dat 29 skole en onderrigsentrums beskadig is. Dié getal het egter toegeneem soos meer onderwysdistrikte inligting ingestuur het.

Infrastruktuur by skole is gebrand, verniel en eiendom geplunder. Rekenaartoerusting, drukkers, fotostaatmasjiene, projektors, telefone, kameras, luidsprekers, radio’s, televisies, kombuistoerusting, kombuisware, boumateriaal, meubels, kos, toiletpapier, boeke en skryfbehoeftes is van die items wat gesteel is. Van die skole se skade moet nog bepaal word.

Volgens die departement is die Sikhululiwe Secondary School se administrasiekantoor tot op die grond afgebrand. Die Mawelewele Primary School in Umlazi, Bonisanani Primary School in Kwamashu en die Siphosethu Primary School in Ntuzuma se administrasiekantore het gedeeltelik afgebrand.

Volgens Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysvakbond Naptosa, het die plundering ’n groot invloed op die provinsie se gereedheid om leerders volgende week by skole te ontvang.

Manuel sê Naptosa sal Woensdag met die direkteur-generaal en hoofde van die departement van onderwys in KwaZulu-Natal vergader oor die skole se gereedheid om volgende week te heropen.

“Ons sal met die departement vergader oor die impak van die plundering op skole se gereedheid om te heropen. Ons sal ook praat oor of die skole oor genoeg persoonlike beskermingstoerusting (PPE) beskik, asook oor oorvol klaskamers ten tyde van Covid-19.”

Manuel het vroeër gesê die plundering ontwrig die lewens van die leerders van die betrokke skole.

“Afgesien van die sielkundige impak wat die plundering op die leerders en onderwysers van die betrokke skole het, is daar ook oor die algemeen ’n baie groter impak op die psige van kinders. Elke keer wanneer volwassenes oor sekere kwessies in die samelewing betoog, vrees hulle dat hul skole moontlik in die proses geteiken gaan word,” het Manuel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grassie ·

Al hoe meer regeingswoordvoerders beweer die peoples was “hungry” daarom het die plundery plaasgevind. Nou wonder ek hoe smaak projektors, kameras rekenaars ens. Ek sien Phoenix is ook op die lys. Ek hoop die 10 speurders wat aangestel is om die mense op te spoor wat die plunderaars goed bygekom het gaan hierdie skoolplundery ook ondersoek.

Blomme ·

Dit maak mens regtig depressief as sulke onsinnige dade kinders negatief affekteer. Ek hoop ‘slim’ Angie kan met ń ‘slim’ oplossing kom vir die dilemma.

Kokerboom ·

Kenmerkend van gemeenskappe wat roekeloos en onnadenkend optree en weier om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir hul roekelose dade te aanvaar. Dis diep gemeen om van ander te verwag dmv handelinge/ geldelike bydrae hul plundering en verwoesting ongedaan te maak. Net in SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.