’n Studie wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) en Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) uitgereik is, toon dat baie meer Suid-Afrikaners al Covid-19 opgedoen het as wat die regering se amptelike syfers wys.
Volgens die bloeddiens is hierdie studie, bekend as ’n seroprevalensie-studie, uitgevoer om te bepaal hoeveel mense werklik al Covid-19 opgedoen het en hoeveel dus reeds SARS-CoV-2-teenliggaampies gevorm het.
Hiervolgens het meer as die helfte van inwoners van die Oos-Kaap (63%) en KwaZulu-Natal (52%) reeds Covid-19 opgedoen. Amper die helfte van inwoners in die Vrystaat (46%) en ʼn derde van mense in die Noord-Kaap (32%) het die virus al onder lede gehad. Maroela Media het vroeër berig dat 67% van die bevolking Covid-19 moet opdoen vir die bevolking om kudde-immuniteit te bereik.
Hierdie studie wys dat veel meer Suid-Afrikaners tot dusver Covid-19 gehad het as wat die departement van gesondheid se amptelike syfers wys. Teen Dinsdagoggend is altesaam 1 492 909 gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika bevestig. Dit is omtrent 6% van die land se totale bevolking.
“Hierdie soort navorsing is een van die min relatief kostedoeltreffende maniere om die omvang van vorige SARS-CoV-2-infeksie op bevolkingsvlak te ondersoek,” sê die bloeddiens in ’n verklaring.
As deel van die dataversameling van die studie, het altesaam 4 858 bloedskenkers tussen 7 en 25 Januarie in die bogenoemde vier provinsies vir teenliggaampies vir Covid-19 getoets. Die meeste skenkers was van KwaZulu-Natal (2 107), gevolg deur die Oos-Kaap (1 457), die Vrystaat (831) en die Noord-Kaap (463).
ʼn Bietjie meer as die helfte (53%) van die skenkers was mans. Die meerderheid skenkers was blank (47%) en swart (34%).
Die voorkoms van teenliggaampies is volgens provinsie, ouderdom en ras getoets.
Uit die resultate is dit duidelik dat meer swart skenkers (60%) teenliggaampies teen die virus opgebou het as ander rassegroepe. Daar is geen beduidende verskille in ouderdomme of geslag waargeneem nie.
Dié rede hiervoor, sê navorsers, is weens sosio-ekonomiese status en swak behuisingstoestande onder die swart bevolking.
Die navorsers sê hoewel die bloedskenkers wat aan die studie deelgeneem het, nie verteenwoordigend van die land se bevolking is nie, bied dit steeds ʼn geloofwaardige weerspieëling van die voorkoms van teenliggaampies onder die Suid-Afrikaanse bevolking.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
29 Kommentare
So die feit dat 60% swartes teenliggaampies opgebou het is mos positief ? en nie ‘n negatief oor hulle sosio-ekonomiese status nie?
Kanselleer maar die entstof bestellings, lyk of ons dit sal oorleef daarsonder.
Het diegene wat die virus gedoen het almal siek geword of net ligte simptome getoon?As jou liggaam teen liggaampies ontwikkel het is dit nodig vir inventing.?Kan iemand kommentaar lewer want ek is nou in die duster.Hoe sal jy weet of jy die virus gehad het?
As dit die geval is is hierdie virus nie eens so dodelik soos n gewone verkoue nie.
Ons menisters kan mos nie tel nie. Zuma het hulle geleer hoe om te tel. Dit gaan alles net oor die geld vir die ANC.