Amper-pa, vyf ander sterf in trompop-botsing  

Ludwich Ras. Foto: Facebook

Ludwich Ras. Foto: Facebook

Ses mense is dood en een ernstig beseer toe ʼn motor en ʼn bakkie Sondag in die vroeë oggendure reg van voor op die R303 buite Ceres in die Wes-Kaap gebots het.

Jacques Mostert, woordvoerder van die provinsiale verkeersdienste, het gesê die ongeluk het omstreeks 02:45 plaasgevind. Vyf mense in die motor is in die ongeluk dood, terwyl die sesde persoon in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas is. Die bestuurder van die bakkie is ook op slag dood.

Die oorledenes is intussen as Ludwich Ras (die bakkiebestuuder), Ricardo Jacobs, Francoline Krotz, Yolandi Snyders, Pedrovene Smith en Abri-hette Swartz geïdentifiseer. Steven Volmoer wat ook in die motor was, is na die hospitaal gehaas.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê dit is nie duidelik hoe die ongeluk plaasgevind het nie, maar dit sal ondersoek word. Hy het gesê ʼn derde motor was glo ook by die botsing betrokke, maar niemand in dié motor is beseer nie.

Talle boodskappe van medelye is sedert Sondag op Ras, ʼn boer van die Prince Alfred Hamlet-distrik, se Facebook-profiel gedeel. Vriende het veral hul ondersteuning aan sy vrou, Adél, uitgespreek wat oor ʼn paar weke aan die egpaar se eersteling geboorte sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

N ·

Dit is so harsteer. Mag die Here by al die mense betrokke se families wees en mag die families hulle troos in Hom soek. Dit is veral hartseer dat daar nou n baba sonder n pa is. Mag Adel die krag kry wat sy nodig het om deur hierdie tyd te kom en ek bid dat als goed sal verloop met die geboorte van hulle kind.

janneman ·

Baie hartseer, RIV Ludwich. Eers was meeste ongelukke spoed verwant, toe raak dit meer bus en taxi verwant, en deesdae is kop aan kop botsings baie sterk op die voorgrond, lees maar die laaste 10 ongelukke se berigte. Bestuursopleiding kort dringend n ander benadering in SA……….

Marianne ·

Glad gevriesde paaie, moegheid en onverskuldige bestuur en spoed is grotendeels die rede vir onhelukke. Elke ongeluk breek my hart. Elke ongeluk en die nagevolge daarvan ruk baie mense Se lewens.
My innige simpatie aan almal Se naasbestaandes en families.

Theresa ·

Tragies. Woorde min om die wat dit moet verwerk by te staan en te troos. Mag die Vader die nodige heling en krag gee. Vergun my om aan jul wat nou smart ervaar, te vra – steun op dié wat ‘n skouer bied; huil saam met dié wat die geleentheid bied; aanvaar die helpende hande op maniere wat mense probeer bystand verleen in ‘n tyd waarin mens afgesonder alleen voel. Soms, as mens so ongelooflik seerkry, stoot mens die helpendes weg (sonder opset en onbewustelik). Laat elkeen wat dit in hul hart vind om jul te help – dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.