Amper R10 miljoen se perlemoen in Kaapstad gevind

Soveel as 70 bokse gedroogte perlemoen is in ʼn versteekte kompartement onder ’n voertuig gevind. (Argieffoto ter illustrasie)

Twee verdagtes, onderskeidelik 28 en 35 jaar oud, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle in besit van amper R10 miljoen se perlemoen gevind is. Die verdagtes was in ʼn wit Hino-trok en wit Audi op die N7-hoofweg in die rigting van Malmesbury op pad.

“Lede van die Valke, misdaadintelligensie en lede van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het gereageer op inligting oor die vervoer van onwettige perlemoen,” het Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, in ʼn verklaring gesê.

Wetstoepassingsowerhede het die verdagte voertuie by ʼn vulstasie langs die N7 in Philadelphia voorgekeer. Die Hino is bestuur deur ʼn Zimbabwiër, terwyl ʼn Chinese man agter die stuur van die Audi was.

“Albei voertuie is ondersoek, waartydens die polisie gedroogte perlemoen in ʼn versteekte kompartement onder die vragmotor ontdek het. Soveel as 70 bokse met 23 896 gedroogte stukke perlemoen ter waarde van R9,9 miljoen is ontdek en op beslag gelê,” het Hani gesê.

Die verdagtes sal Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van die besit en vervoer van onwettige perlemoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Juffrou ·

Wat word van alles wat altyd gekonfiskeer word? Ons hoor/weet nooit. Wie kry dit? Nogal verdag!

Nie Verbaas ·

Perlemoen stropers het polisie verjaag by die een strand. Wat is al daaraan gedoen? Seker niks soos gewoonlik. Chinese stroop die hele wereld maar ons regering is hand in die sak met hulle.

akkedismis ·

Die polisie sien hul stroopoperasies, maar TREE nie OP NIE! Do they get a cut?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.