Amper R700 miljoen om 17 mense op te pas

Argieffoto: SAPD

Die belastingbetaler het in die 2017-’18-boekjaar nagenoeg R700 miljoen opgedok om altesaam 17 mense daagliks veilig te hou.

Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het bekend gemaak dat daar in die afgelope boekjaar 1 382 polisiebeamptes vir die polisie se presidensiële beskermingseenheid gewerk het om huidige en voormalige presidente, adjunkpresidente en hul gades veilig te hou.

Mbhele het gesê dit beteken daar was 81 lyfwagte per persoon. “Dit is werklik verstommend aangesien die polisie-tot-bevolkingsverhouding nasionaal een polisiebeampte vir elke 369 burgers is.

“Dit is ʼn blatante voorbeeld van hoe die lewens van die elite meer vir die ANC-regering saak maak as dié van gewone burgers.”

Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het ʼn parlementêre vraag aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig en wou by hom weet hoeveel daar in die afgelope drie boekjaar aan die presidensiële beskermingseenheid bestee is en wat die eenheid se vermoë rakende personeel in dié tydperk was.

Cele het in sy antwoord, wat Maroela Media onder oë gehad het, gesê daar is in die 2015-’16-boekjaar net meer as R618 miljoen aan die eenheid, bestaande uit ʼn bemanning van 1 162, bestee.

In die 2016-’17-boekjaar is net meer as R617 miljoen aan die eenheid bestee en was daar ʼn bemanning van 1 369. In die 2017-’18-boekjaar is net meer as R693 miljoen bestee en was die bemanning 1 382.

Volgens Mbhele word voormalige en huidige staatshoofde en hul gades beskerm terwyl miljoene Suid-Afrikaners voortdurend in vrees leef dat hulle die volgende slagoffers van geweldsmisdaad sal wees.

“Dit is tyd dat die regering besef alle lewens het waarde, nie net dié van ANC-kaders nie. Dit is ʼn aanklag teen die ANC-regering dat hy meer as R690 miljoen aan die presidensiële beskermingseenheid bestee terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens al jare lank kronies onderbeman is.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Geagte “politici, ontleders” en ander melkkoeie soos ek: dit kom neer op ‘n ekstra R40milj /jaar per persoon (vir die BBP’s) Dit is so gemiddeld van R 500 000 per lyfwag per jaar!!!!!! en dit is net vir veiligheid! en Prof. Rudolf Zin reken dit is eintlik oraait!
Hierby ingesluit is nie die totale koste om al die ander ministers, adjunkte, ander regerings amptenare, burgermeesters, regerings geboue ens. “op te pas nie”
En dan kom ons nog by die uitgebreide “reistoelaes, verblyfskostes en ander toelaes.
Plus dan word hul ruim vergoed aan salarisse!
GEEN WONDER DIE BELASTINGBETALER KRUIN EN STEUN NIE

Theresa B ·

En daar is mense wat nie eers kos het om te eet nie……………………

SoosDitIs ·

Ja Theresa, maar hulle gee nie om nie, solank hulle veilig en vol is kan die land maar vergaan.

Jane ·

Ja vreemd dat die massas steeds sal stem vir die mense wat die kos uit hulle monde haal. Hulle sal sonder kos en huise en elektrisiteit bly en die groot makkers se uitgawes bly regverdig en ondersteun want die NP regering het dit ook gedoen (dis gewoonlik die redenasie). Dan het ek geen simpatie met die voters nie .. ongelukkig is dit geld wat vir hulle aangewend kon geword het vir dienste en behuising waaroor hulle elke dag staak, maar aangesien daardie probleem volgens hulle deur blanke eiendom en blanke plase opgelos gaan word, kan die spandering van die regeringsamptenare hulle min skeel.

Cherokee ·

Ook is dit so Jane, dat ons kennis dra van syfers wat nie die massas bereik nie. Daarbenewens geld ook die vraag wat syfers soos genoem, vir die massas beteken.
Is daar ‘n verskil tussen ‘n miljoen rand en ‘n biljoen rand vir ‘n arbeider wat van die hand na die mond leef? Is daar ‘n verskil tussen ‘n miljoen rand en ‘n biljoen rand vir ‘n parlementariër, wanneer die geld nie aan self maar aan die massas behoort?

Nita ·

Skande! En die die volk moet soos prisoniers, dag en nag agter getraliede deure en vensters sit.

Ella ·

Vir wie is hulle so bang? Dis mos hulle mense wat vir hulle gestem het en al hul aksies goedkeur.
SA is mos n veilige plek se minister Sosulu.

Willie ·

Dis totale diefstal… Dieselfde was bevestig SA is n veillige plek..

christa ·

dis reg, die regering weet nie hoe om geld te bestee nie. Hulle kyk net na hulle eie bas. Hoekom moet die mense op gepas word? is hulle bang om dood te gaan? wat van die boere wat ook nie wil doodgaan nie, hulle moet die wreedste dood maar “face”

Anoniem ·

Dit kos dus ongeveer R 112 000.00 om 1 persoon per dag op te pas? Ek het al van bang gehoor, maar dit oortref alles.

SoosDitIs ·

Hulle vrees dat hulle slagoffers gaan wees van geweldsmisdaad? Okay, wat van regeer die land beter dat misdaad so afneem dat dit nie nodig is om in vrees te leef nie? Bring die doodstraf terug? nee wag, dis te ingewikkeld vir die ANC. Kom ons mors eerder geld.

Koos B ·

Miskien moet hulle opgepas word om te keer dat hulle nie nog meer vermors nie.O gaats jammer die oppassers moet ook seker nou opgepas word.

Skandelik ·

EN R0 om boere op te pas wat nie net kos verskaf nie maar ook grootste bydrae tot die ekonomie maak. Dit is skandelik dat soms korrupte mense opgepas word met my belastinggeld terwyl die boere vir hulle eie veiligheid verantwoordelik moet wees? Die bedrae is ook altyd belaglik, dit is nie net ‘n normale sekuriteitsman se fooi nie, maar honderde duisende rande vir sekuriteitswagte wat nie daardie salarisse op enige ander plek sal kry nie . BELAGLIK soos met al hulle ander uitgawes!

Louise ·

Die mense wat die begroting vir die dienste moet uitwerk, het nie eers Wiskunde geletterheid op skool geslaag nie. 17 mense teen 3 wagte per persoon(meer as genoeg) is 57 teen R10000 per maand is R570 000 per maand. Vir 12 maande dus; R6 840 000. Nou wat verdien hierdie wagte dan per maand? Of het elk van daardie BBP’s n klein weermag nodig om hulle te beskerm?

Theunis Nel. ·

Een of ander tyd gaan die fontein opdroog. Dit is omrede hulle soveel strooi aanjaag dat hulle opgepas moet word.

Boy van die Suburbs ·

Goeie genugtig! Dink die mense geld groei aan bome……

Willie ·

n wag van R122 000, moet regtig goed wees, recce, navy seal, koevoet, op water loop ents?

Dinkreg ·

Nommer een… dis nie vir die salaris nie,dis vir alles. Vervoer, kos karre ens.
Twee. Weereens kla almal en niemand weet eintlik wat regtig aangaan nie. Tot die prof kommisaris van die polisie….wat n polisieman IS… word deur n peleton manne opgepas. So daai 700 mil is niks. Dis eintlik 100 keer meer….

Christelle ·

En so raak die armes nog armer en die rykes nog ryker.

Joha db ·

Nou wat het die arme rykes nou weer hiermee te doen? Dit raak nou afgesaag.

NOBI ·

Ek vra al lankal die vraag,hoekom moet die hoë mense opgepas word, hulle is net gewone mense wat te bang vir alles is. Vat die wagte weg, sodat hulle soos die gewone publiek kan lewe. Hul lewe is nie meer werd as ons s`n nie.

M ·

Dis skokkend julle ek stem. Mag daar nog meer sulke korrupsie oopgevlek word en regverdigheid in ons land geskied.

Henk du Toit ·

Skote Petoors NOBI. Waarom sal n hoë amptenaar in SA nou bedreig voel? Hulle regeer dan so puik. Ek spekuleer nie ek stel dit by wyse van vaste oortuiging dat as jy die wagte wegvat:
– korrupsievlakke dadelik sal daal
– die polisie meer doeltreffend sal wees vir Jan en Alleman
– plaas aanvalle sal verminder
– die ongehinderde toestroming van misdadigers oor die wereld gou stopgesit sal word deur streng optrede.

Hoe lekker stoom die soustrein nie net lyfwagte om die passasiers te beskerm nie.
Die vuurpoel in Nkandla is rooi van van ons boere se bloed, want de laaste een in Lethuli huis gaan was hulle hande in onskuld daar. Onskuld, wees dit deur stilswye of wees dit deur meedoening, heler en steler vir altyd saam. Ewig is ons Afrika.

Cherokee ·

Nog ‘n uitdrukking wat met die groei van Afrikaans, klaarblyklik die stof gebyt het; Dink jy geld groei op my rug!?

Carien ·

Kan ek asb my belastinggeld terugvra? Ek betaal dan vir die verkeerde redes belasting……….

Zumie ·

Ons spandeer sooooo lekker aan ander mense se geld…
Afrika…oooh Afrikaaa……

Jaco ·

So ek betaal elke maand belasting om dié mense wat my eiendom gaan onteien te beskerm….

marous ·

Die spaarvarkie is leeg. Volgende jaar gaan hulle met afslagkoepons die begroting doen …om maroelas en hout te koop

HPV ·

Dit is meer as genoeg rede om enige denkbare manier te vind om belasting te ontduik en sodoende jou swaarverdiende geld terug te neem.

Maggie botes ·

Hulle eie mense vat die kos uit hulle monde maar hulle haat die blankes

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.