Amplats gaan direk met werkers praat

Foto: STEPHANE DE SAKUTIN/AFP/GettyImages

Foto: STEPHANE DE SAKUTIN/AFP/GettyImages

Anglo American Platinum (Amplats) sal sy jongste loonaanbod direk aan sy werknemers dwarsoor Suid-Afrika aanbied, het die maatskappy Woensdag gesê.

“Ons het sedert verlede week ʼn reeks massavergaderings in Rustenburg gehou,” het Mpumi Sithole, woordvoerder van Amplats, aan Sapa gesê. “Ons het vandeesweek met vergaderings begin in die Oos-Kaap, Lesotho en Mosambiek om direk met die werknemers te gesels oor die gewysigde aanbod.”

Sithole het stakende myners aangemoedig om met die maatskappy se menslikehulpbronne-bestuurders te gesels wat die aanbod sal bespreek en die besonderhede daarvan sal verduidelik.

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Dinsdag die jongste loonaanbod van die platinummaatskappye verwerp om die drie maande lange staking tot ʼn einde te bring. Jimmy Gama, tesourier van die vakbond, het aan Sapa bevestig dat die vakbond die jongste aanbod van Amplats, Lonmin en Impala Platinum (Implats) verwerp het.

Lede van Amcu staak al sedert 23 Januarie by die maatskappye se mynbedrywighede in Rustenburg in Noordwes en Northam in Limpopo. Hulle eis ʼn intreevlaksalaris van R12 500 per maand.

Intreevlak ondergrondse werkers sal teen Julie 2017 ʼn minimum kontantbetaling van R12 500 per maand of R150 000 per jaar verdien deur die werkgewers se gewysigde aanbod.

Onderhandelinge tussen Amcu en die werkgewers het verlede Donderdag vasgeval. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.