Amplats-hoof jammer oor salaris-uitlatings

Amcu-lede wat nie Woensdag teruggekeer het werk toe nie. Foto: M Molaole/Sapa

Amcu-lede wat nie Woensdag teruggekeer het werk toe nie. Foto: M Molaole/Sapa

Chris Griffith, uitvoerende hoof van Anglo American Platinum (Amplats), het om verskoning gevra vir aanmerkings wat hy aan Business Day gemaak het ter regverdiging van sy salaris

“Ek wil graag om verskoning vra aan die werknemers van Anglo American Platinum en die lesers vir die aanmerkings wat ek Woensdag in ‘n Business Day-artikel gemaak het,” het Griffith in ‘n verklaring gesê. “My woordkeuse was onvanpas en ‘n slegte manier om die uiters uitdagende situasie wat ons tans in is, te beskryf.”

Business Day het Woensdag berig dat Griffith, 11 van sy bestuurders en ander topbestuur meer as R25 miljoen gekry het as deel van ‘n bonusaansporingskema en dat die geld oor ‘n tydperk van drie jaar uitbetaal sal word. ‘n Verdere R51,8 miljoen sal aan die groep uitbetaal word oor dieselfde periode indien ‘n aantal prestasiekriteria bereik word.

Business Day het berig dat Griffith volgens Amplats se 2013-jaarverslag ‘n totaal van R17,6 miljoen betaal is, waarvan R6,7 miljoen sy basiese salaris was. Die maatskappy het in 2013 salarisse van R12,5 miljard betaal.

Griffith het glo aan die koerant gesê: “Word ek op ‘n regverdige basis betaal vir wat ek moet hanteer in die maatskappy? Moet ek die maatskappy bestuur en al hierdie nonsens hanteer vir niks? Ek is by die werk. Ek staak nie. Ek dring nie daarop aan om betaal te word vir wat ek nie werd is nie.”

Griffith is later erg gekritiseer vir sy aanmerkings. Roger Southall van die departement van sosiologie aan die Witwatersrand Universiteit het die volgende dag in ‘n brief in Business Day gesê Griffith se aanmerkings was “onsensitief”.

“Wel sy R17,6m is nie sleg vir ‘n hoof uitvoerende beampte wat vir die afgelope ses maande of meer wag hou oor ‘n arbeidsverhoudinge-krisis wat sy maatskappy miljoene indien nie miljarde rande kos nie. Maar selfs al het Amplats toegegee aan die R12 500 waarop die mynwerkers aandring, sou mnr. Griffith 117 keer meer verdien as sy laagste-betaalde werknemers! Kan hy regtig glo dit is ‘regverdig’ en indien hy doen wil ek vra, waar op aarde kom hy vandaan?”.

Papa Mkwane het in ‘n brief wat Vrydag in die koerant gepubliseer is, Griffith as afskuwelik beskryf en gesê hy is iemand by wie basiese leierseienskappe ontbreek soos vergestalt in oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap wat gebare en opoffering insluit. “Dit neem ‘n leier om te besef dat jy nie bonusse kan aankondig in die middel van sulke onderhandelinge nie.”

Griffith het in sy verskoning gesê die “skynbaar onsensitiewe tydsberekening van die bonusskema-aankondigings” word deur JSE se verslagdoeningregulasies bepaal wat met die uitgerekte staking saamval. “Ek wil julle lesers verseker dat ek baie omgee oor die impak van die staking op die lewens van ons werknemers, hul families en gemeenskappe. Die situasie lyk sleg.”

Griffith sê Amcu se eis vir ‘n minimum basiese salaris van R12 500 is onbekostigbaar aangesien dit die maatskappy se kostes met R4,5 miljard per jaar sal verhoog.

Amcu-lede by Lonmin, Implats en Amplats in Rustenburg, Noordwes en Northam in Limpopo staak sedert 23 Januarie en dring aan op ‘n basiese salaris van R12 500 per maand.

Mynmaatskappye het reeds meer as R18,1 miljard in inkomste verloor sedert die staking begin het. Mynwerkers het reeds meer as R8 miljard in salarisse verloor.

Griffith sê hy weet dat ‘n meerderheid van sy werknemers wil terugkeer werk toe maar dat hulle geïntimideer word. “Ons veroordeel die intimidasie. Ons werknemers het die reg om te weet wat die aanbod op die tafel is en het ons om die rede direk na hulle toe gegaan met die aanbod. Ons gaan voort om ons werknemers aan te moedig om terug te keer werk toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.