Amplats wil Rustenburg-myne verkoop

Argieffoto

Argieffoto

Anglo American Platinum (Amplats) het Maandag aangekondig hy is van plan om van sy myne in Noordwes en Limpopo te verkoop.

“Ons besluit om te onttrek uit die Union-myn [in Limpopo] is reeds aangekondig,” het Chris Griffith, Amplats se uitvoerende hoof, in ʼn verklaring gesê. “Daar is ook tot die slotsom gekom dat ons bates in Rustenburg [Noordwes] en Pandora JV beter sal vaar in die hande van nuwe eienaars.”

Griffith het gesê die maatskappy besluit nog oor sy werksaamhede by Bokoni in Limpopo.

Die maatskappy het ook bekendgemaak dat sy winste aansienlik verminder het in die eerste ses maande van die jaar. Sy wesensverdienste het tot R157 miljoen verminder in vergelyking met die R1.3 miljard in 2013.

Volgens Griffith is die eerste helfte van die jaar hoofsaaklik gekenmerk deur die Amcu-staking toe 40% van sy produksie nie werksaam was nie.

Werkers wat deel is van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het op 23 Januarie vanjaar begin staak en aangedring op ʼn intreevlaksalaris van R12 500. Die staking het op 24 Junie tot ʼn einde gekom nadat mynbase en Amcu ʼn drie jaar skikkingsooreenkoms onderteken het.

Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor die ekonomie, het intussen gesê die verkoop van die myne kan tot 20 000 werkverliese tot gevolg hê.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het ook gesê hy is geskok oor Amplats se besluit om sy oudste platinummyne in Suid-Afrika te verkoop.

“Dit gaan tot werksverliese lei en sal ʼn straf wees vir arm mynwerkers,” het Frans Baleni, NUM se uitvoerende hoof, gesê. “Die werkers gaan die slagoffers wees. Die verkopers gaan ryker word en die werkers gaan armer of werkloos wees.” Hy het gesê die vakbond sal met die maatskappy vergader om moontlik werksverliese te keer.

Alberts sê Amplats se aankondiging moet die ANC-regering se oë laat oopgaan oor die skade wat stakings en onversetlike vakbonde die land se ekonomie aandoen. Hy het gesê die regering en vakbonde moet ter harte neem dat die land se ekonomie nie ‘n speelbal is wat onverwyld gyselaar gehou kan word nie.

“Dit is verstommend dat vakbonde nou hul ontevredenheid uitspreek oor die verkoop van die myne en gepaardgaande werkverliese,” het Alberts bygevoeg. “Die betrokke vakbonde en die regering moet mede-verantwoordelikheid aanvaar vir die mense wat dalk sonder ‘n werk gaan sit. Gaan hulle nou vir die werkloses sorg en hul rekeninge betaal, of gaan hulle voort met stakings tot meer mense hul werk verloor?”

Hy waarsku dat vakbonde wat te veel eis, bedroë daarvan gaan afkom as myne uit die land onttrek of op groot skaal begin meganiseer. “Kundiges meen dat daar tot 200 000 werkverliese binne twee tot drie jaar in die vervaardigingsektor kan wees weens meganisering. ʼn Gebalanseerde benadering by al die rolspelers is daarom nodig in ‘n omgewing wat arbeidsintensief is. Mense raak al hoe meer misbaar met tegnologiese vooruitgang, en die regering en vakbonde moet ter harte neem wat die uiteinde van die Amplats-staking is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JB ·

Don’T told you, I have told you so!!! Nou verwyt die vakbonde, maar dit is hulle skuld!!!!!

Dereck Le Roux ·

Dit was te wagte gewees maar aan die anderkant moet ons nie vergeet dat die groot mynmaatskappye die swart vakbonde gepamperlang het ten koste van die wit werkers en ‘n lat vir hul eie baste gepluk het en nou gaan die wit werkers weer die onderspit moet delf vir hul onverantwoordelikheid, streng gesproke, hulle moenie ontrek nie maar verantwoordelikheid aanvaar .

EMK ·

Nou is NUM geskok?! Wat verwag hulle, moet myne/besighede maar net ly onder al die stakings en werkverlies wat tot inkomsteverlies lei? Binnekort koop weer een van Zuma se neefs/broers/agterkleinkind/whatever die myne en doen niks en saldit soos met al diesulkes in die verlede gaan – dit sal eenvoudig toemaak en ALMAL sal hul werk verloor. Maar leer hulle? Nooit!

Wouter ·

Ek het ‘n ggoeie plan. Verkoop die myne aan die unies. Dan kan hulle mos besluit wie wat betaal moet word. Hulle kan dan mos die winste vir hulle vat wat hulle nou vir niemand gun nie.

lorayne ·

Wouter? SIT! jou slim kind! Die beste gedagte wat nog opgekom het! Jy moes 2 gewees het
skat!

Sonia ·

Ek stel voor dat Mnr Malema en die Unie in beheer van hierdie myne geplaas word onder ‘n tipe van ‘n “pag ooreenkoms” en dit bedryf sodat die werkers hulle verhogings kry soos ooreengekom – hulle het dit aangepor en moet dus verantwoordelik gehou word vir die uitvoer van die ooreenkoms.

Peet Smit ·

Uitstekend! As ‘n belegger ‘n swak belegging het, raak ontslae daarvan en belê in iets anders. As jou werknemers jou meer pyn as plesier verskaf, raak van hul ontslae. As wetgewing dit ontmoontlik maak en hul is bykans onlosmaaklik verbind aan die besigheid, raak ontslae van die besigheid. Die nuwe eienaars kan op ‘n skoon blad begin en aanstel wie hul wil en soveel meganiseer soos hul wil. Ek glo die goeie ouens sal weer werk hê, maar hierdie keer sal die vrot appels nie meer daar wees nie. Groter meganisasie beteken meer gevorderde opleiding, hoër salarisse en minder mense. Dit kan dalk werk en is dalk die beste plan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.