Amptelike brandstofprysverlagings aangekondig

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Die amptelike brandstofprysverlagings vir Januarie 2019 is bekend gemaak.

Die Sentrale Energiefonds het aangekondig dat 93-oktaan-petrol van 2 Januarie R1,22 per liter goedkoper sal wees.

95-oktaan-petrol sal R1,23 per liter goedkoper wees terwyl die prys van diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% met nagenoeg R1,54 sal daal en diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% met sowat R1,56 per liter goedkoper sal wees. Paraffien se prys sal met R1,64 per liter daal.

Die Sentrale Energiefonds het gesê internasionale petroleumprodukte was goedkoper tydens die tydperk onder hersiening terwyl die rand verswak het teenoor die Amerikaanse dollar.

Die regering het egter die balansheffing (slate-heffing) na slegs twee maande van 21,92c per liter tot 0c per liter verminder.

Die Automobiel Assosiasie (AA) het vroeër gesê die vernaamste dryfveer vir hierdie verlagings is dalende internasionale petroleumpryse wat aangevuur word deur die VSA wat neig om ʼn netto uitvoerder van olie te word. “As dit sou gebeur, sal die mag van die Opec-lande om petroleumpryse te beïnvloed, aansienlik verminder wat sal lei tot beter stabiliteit in die olieprys.”

Volgens die AA sal die scenario’s egter oor die langtermyn uitspeel, en moet Suid-Afrikaners eerder meer bekommerd wees oor korttermyn-effekte soos die rand-dollar-wisselkoers.

“2018 het getoon hoe kwesbaar Suid-Afrika is vir wisselkoersvolatiliteit en ons sleutelboodskap aan die regering is om te werk om die ekonomie te stabiliseer en regeringskuld te bestuur.

“Ons vooruitsig vir 2019 is dat Suid-Afrika se ekonomiese grondslae en beleggersvertroue wat die rand beïnvloed, die grootste faktore sal wees wat die brandstofpryse beïnvloed,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.