Amptelike vuurwapens is uit polisiestasie gesteel

Kareedouw-polisiestasie in die Oos-Kaap

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco en die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het bevestig amptelike vuurwapens is Saterdag tydens die rooftog by Kareedouw-polisiestasie in die Oos-Kaap gesteel.

Maroela Media het vroeër berig vier gewapende rowers het omstreeks 01:30 op die stasie toegeslaan en ʼn getal polisievuurwapens, insluitend outomatiese gewere en ʼn polisiehandradio uit die kluis gesteel. ʼn Groot soektog is van stapel gestuur om die oortreders aan te keer.

Jabu Mahlangu, woordvoerder van Sanco, het in ʼn verklaring sy skok en kommer uitgespreek oor die voorval. “Hoe kan gemeenskappe, wat reeds in vrees lewe van gewelddadige misdade soos moorde, transitorooftogte, gewapende rooftogte en kapings glo dat die polisie die oorhand kry oor misdaad terwyl bendes polisiekluise leegmaak?”

Hy het dit benadruk dat polisiestasies gemeenskapsveiligheidsentrums is wat veronderstel is om onaantasbaar maar deurgaans toeganklik te wees vir dienste.

“Die bestuur van die polisie moet aandui watter voorsorgmaatreëls en veiligheidshersieningsmaatreëls hulle in plek gestel het sedert die voorval by Ngcobo-polisiestasie. Hulle moet seker maak dat wapenkluise by al ons polisiestasies nie toeganklik is nie, want niks sal kriminele verhoed om daartoe toegang te kry nie,” het hy bygevoeg.

Vyf polisiebeamptes en een soldaat is in Februarie by die Ngcobo-polisiestasie, ook in die Oos-Kaap, dood toe ʼn groep gewapende mans toegeslaan het. Hulle het ook vuurwapens uit die wapenkluis gesteel.

Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het ook sy “ernstige kommer” uitgespreek oor die aanval by Kareedouw-polisiestasie. Francois Beukman het gesê daar is ernstige kommer oor die doeltreffendheid van die veiligheidstrategie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op stasievlak ná die aanval. “Die komitee veroordeel hierdie voorval ten sterkste.”

Hy het gesê dit is kommerwekkend dat kriminele só astrant geword het dat polisiestasies, instansies wat die middelpunt van die stryd teen misdaad is, geteiken word. “Dit is ook kommerwekkend dat polisievuurwapens wat by die stasie gesteel is, nou in die poel sal beland van vuurwapens wat vir kriminele oortredings gebruik word.”

Beukman het gesê die komitee neem ook kennis dat die rooftog plaasgevind het ondanks versekering deur die bestuur van die polisie vroeër vanjaar dat veiligheid by polisiestasies opgeskerp sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Nou het ek alles van President Ramaphosa se land gehoor ! Ek gaan beslis nie in die land belê nie !

William Atkinson ·

Ou Beki Cele……jy maak baie geld en wapens bymekaar ne…..dis hoekom jy nie Weermag wil toelaat om hulle werk te probeer doen nie……kyk bietjie na statistieke na Beki Minister geword het

ne ·

Beki (Cowboy) Cele word wakker! Die land brand en jy slaap….

Lindie ·

Daar is saans gewoonlik net 1 konstabel aan diens en die nag van die roof was dit n vrou. Geen veiligheidshekke.

bgj van der westhuizen ·

wel as daar net een persoon aan diens was nou vra ek die vraag wie is in bevel van die vuurwapens in daar die stasie wand vuur wapen word uit geriek aan n persoon en die kluis word dan weer se sluit was die kluis oop en as hy gesluit was waa was die sleutel dat hulle dit kan gekry het ek wil dit ook noem dat ek in stap by n sapd stasie deur n hek wat oop is om na n saal te gaan waar ons n meeting hou en nie mand vra vir jou wie is jy of waar heen gaan jy in die stasie ni e dit kom daar op neer dat daar nie behoorlike control oor die stasie is meer nie

christa ·

gaan soek die wapens by die polisiemanne self. Hulle is net so korrup soos die daar buite

Dalene Lamprecht ·

My mening ook. Dis ‘n inside job. Polisielede werk saam met die kriminele. Regoor SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.