Amptenaar afgedank oor uitgelekte kandidaatlyste

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die amptenaar wat die ANC en uMkhonto weSizwe (MK) se parlementêre kandidaatslyste afgelaai en laat uitlek het, is in die pad gesteek.

Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het Dinsdagoggend in ʼn onderhoud met Newzroom Afrika bevestig dat die werknemer se dienskontrak by die kommissie intussen beëindig is.

Die amptenaar is wel vooraf die geleentheid gegun om ʼn voorlegging voor te berei oor waarom hy of sy nie afgedank behoort te word nie.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die amptenaar nie nét die ANC en MK-party se kandidaatslyste afgelaai het nie.

Mamabolo het tydens die onderhoud erken die amptenaar het ʼn “aansienlike aantal partye” se kandidaatlyste, waarop kandidate se name en identiteitsnommers verskyn, afgelaai.

Slegs die ANC en die MK-party se lyste is egter eindelik uitgelek.

Mamabolo kon nie vanoggend sê presies hoeveel partye se lyste die amptenaar afgelaai het nie.

Mamabolo kon ook nie sê waarom die werknemer die lyste afgelaai het nie. “Die motief is steeds onbekend.”

Mawethu Mosery, verkiesingsbestuurder van die OVK, het vanoggend in ʼn onderhoud met eNCA bevestig dat die amptenaar gemagtigde toegang tot politieke partye se parlementêre kandidaatslyste gehad het. “Daar was geen oortreding van veiligheidsmaatreëls of ongemagtigde toegang nie.”

Volgens Mosery was alle personeel wat toegang tot die verslag oor partybenoemingslyste het aanvanklik onder verdenking. Teen Saterdag om middernag was die fokus op enkele personeellede voordat daar eindelik een skuldige geïdentifiseer is.

Die betrokke amptenaar was glo werksaam by die OVK se kantoor in Gauteng.

Maroela Media het vroeër vanoggend berig ʼn ondersoek het die kommissie na die verantwoordelike amptenaar se werkstasie gelei. Die werkstasie is glo gebruik om die verslae te genereer en te berg, maar verslae is later by die werkstasie uitgevee.

Ook Mosery sê die motief vir die uitlek van die lyste is in hierdie stadium nog onbekend.

Mosery het die afgedankte amptenaar as “onprofessioneel” en “nalatig” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wondermaarnet ·

Ek wens die kaders kan ook so maklik ontslaan word vir BAIE GROTER misdade wat hulle pleeg.

Jacques Dawie ·

Waar Afgelaai? Die probleem is nie die toegang as sulks nie, maar dat dit so maklik bekombaar was. Dan is my en jou inligting ook mos geskroei deur die’ wat sommer maar net toegang tot dit het en kan maak wat hul wil?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die OVK is geinfiltreer deur ongure magte, insluitend buitelandse agente. Hulle stelsels is ‘n oop boek.

JohanR ·

Trust die OVK net niks nie. Sal die verkiesing lekker bewimpel in guns van die ANC.

Papsak ·

Vertrou nie een van hulle nie bly skelm sal alles bewerk om anc te laat wen !!!!!

skurweberg ·

Om ‘n sekerheidklaring te doen in hierdie aanstellings is mensereg skending. Bly hulle pluk die vrug. van eie sieklike skepping

Frank ·

“Mensereg skending” se jy? Net ‘n skurwe berg kan ‘n molshoop baar met so stelling

Martie ·

Nou is dit dan ‘n staatsgeheim? Volgende maand wil hulle hê ons moet vir hulle stem maar intussen is dit ‘n geheim wie almal op die lys van 20000 is. Nog nooit gehoor van soveel kandidate nie. Wie het nou tyd om daardie lyste te lees.

Karina ·

Net ‘n slenter om die verkiesing uit te stel want iemand is bang, baaaaie bang. Plus die afgedankte “amptenaar” het verseker met ‘n mooi pakket uitgeloop, omgedraai en is terug in sy werk. Ek mag maar glo en dink wat ek wil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.