Amptenaar gee haar oor ná betalings van Digital Vibes

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Amptenaar van die munisipale infrastruktuur-ondersteuningsagentskap (Misa) het haarself Dinsdag aan die polisie oorgegee in verband met haar beweerde betrokkenheid by ʼn kontrak met die omstrede kommunikasiemaatskappy Digital Vibes.

Lizeka Tonjeni (47) het vanoggend op aanklag van korrupsie in die Pretoriase handelshof verskyn voordat sy op borgtog vrygelaat is.

Daar word beweer dat Tonjeni tussen 2018 en 2020 sowat R160 000 van Digital Vibes ontvang het. Die kommunikasiemaatskappy het die afgelope jaar die nuusvoorblaaie gehaal oor ’n omstrede kontrak met die departement van gesondheid.

Tonjeni was destyds ’n projekbestuurder by Misa toe dié staatsinstelling in 2018 ʼn tender van nagenoeg R4 miljoen aan Digital Vibes toegeken het om kommunikasiedienste vir ʼn tydperk van 24 maande te lewer.

Tonjeni was as projekbestuurder verantwoordelik vir die aanstelling en bestuur van die diensverskaffer.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), was die betaling van R160 000 wat Tonjeni destyds van Digital Vibes ontvang het, nie gemagtig nie en het dit haar nie toegekom nie.

Die staat het nie vanoggend borgtog teengestaan nie en borgtog van R5 000 is aan Tonjeni toegestaan. Die beskuldigde was egter as deel van haar borgtogvoorwaardes verplig om haar paspoort by die klerk van die hof in te gee en mag vir die duur van die saak nie die grense van Gauteng verlaat sonder die ondersoekbeampte se toestemming nie.

Tonjeni sal weer op 15 Junie in die hof verskyn.

Die Valke sê sy ondersoek duur voort en hy verwag om binnekort nóg inhegtenisnemings in dié verband te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.