Amptenaar in hof wat staat glo bedrieg

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Staatsamptenaar verbonde aan die departement van landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal het Maandag in die landdroshof in Durban verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. Sithembile Khumalo (43) het glo tussen 2015 en 2016 altesaam 11 kontrakte bedrieglik namens die departement aan diensverskaffers toegeken. Die diensverskaffers is deur die “departement” betaal vir dienste wat hulle nie gelewer het nie.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, sê Khumalo het na bewering met haar kollegas en die diensverskaffers gesels oor haar plan om die departement te bedrieg. Hulle het na bewering bestellings opgestel en tenders toegeken aan die diensverskaffers wat ook deeglik daarvan bewus was dat geen dienste gelewer sou word nie. Bedrieglike dokumente en fakture is as eise ingedien.

“Die departement het weens hierdie bedrogspul ʼn verlies van omtrent R3,9 miljoen gely,” sê Mhlongo.

ʼn Saak van bedrog is by die Hilton-polisie aanhangig gemaak en die saak is na die Valke se ernstige handelsmisdaadondersoek-eenheid in Pietermaritzburg oorgeplaas.

Ses beskuldigdes, Lethiwe Mbatha (46), ’n voormalige werknemer van die departement, en die diensverskaffers, Slindelo Mbhele (44), Msizi Mbense (40), Fayers Mahlangu (54), Princess Mthombeni (47) en Patrick Mthombeni (52), is in Maart vanjaar reeds in verband met die saak in hegtenis geneem. Hulle is almal op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Khumalo is ook borgtog van R10 000 toegestaan en sy sal volgende Vrydag saam met die ander beskuldigdes in die beskuldigdebank staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mier14 ·

Nou hoekom hoekom hoekom is daar nie ten minste 3 wat dit moet goedkeur nie. Bedrog sekerlik nogsteeds moontlik, maar daar moet op die hoogste vlak toestemming en verifikasie gedoen word. Baie geld om so maklik weg te teken.

ES ·

En dit, my liewe vriende, is hoekom ons land en infrastruktuur in die toestand is wat dit huidiglik is.

Daar was ook natuurlik nie iemand wat inspeksie gaan doen het om te bevestig dat die “werk” gedoen word wat toegeken is nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.