Amptenaar van inkomstediens vas vir korrupsie

Argieffoto.

ʼn Amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Vrydag in die Tshilwavhusiku-landdroshof in Limpopo op aanklag van korrupsie verskyn.

Volgens ʼn verklaring van die SAID het Sello Lentsoane op 3 Desember in sy uniform na die Tshilwavhusiku-polisiestasie gegaan en voorgegee dat die SAID hom gestuur het om ʼn vragmotor met ʼn vrag sigarette te gaan haal.

Polisiebeamptes het snuf in die neus gekry en het die Inkomstediens gebel om seker te maak dat hulle die vragmotor aan die amptenaar moet oorhandig.

Die SAID het die polisie ingelig dat Lentsoane, wat oënskynlik met verlof was, nie gemagtig was om die vragmotor van Tshilwavhusiku na die Beitbruggrenspos te neem nie.

Die vragmotor het 742 bokse Remington Gold-sigarette met ʼn waarde van nagenoeg R 1,4 miljoen vervoer. Die belastingverlies aan die staat sou meer as R8,5 miljoen beloop het.

Lentsoane is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Lentsoane het Vrydag in die hof saam nog twee vermeende betrokkenes, Christian Chann Bezuidenhout (64) en sy seun, Christian Bezuidenhout (19), om borgtog aansoek gedoen. Die Bezuidenhouts se aansoeke om borgtog is toegestaan terwyl Lentsoane se aansoek van die hand gewys is.

Hy sal na verwagting weer môre (Dinsdag) in die hof verskyn.

Die SAID het die afgelope jaar streng opgetree teen vermeende korrupte amptenare in sy eie geledere.

Van die 2017-’18-boekjaar tot nou is altesaam 14 SAID-werkers skuldig bevind en gevonnis vir misdade wat wissel van inkomstebelastingbedrog, tot BTW-bedrog, diefstal en rampokkery. Met betrekking tot interne tugstappe wat die SAID gedoen het, is 104 werkers reeds ontslaan en 121 het in hierdie tyd bedank.

Ander interne tugstappe is ook gedoen, waaronder finale skriftelike waarskuwings aan 27 werkers en finale skriftelike waarskuwings en die opskorting van betaling vir ʼn sekere tydperk aan 14 werkers.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, sê hy is vasbeslote om korrupsie in die SAID uit te roei.

“Een van die steunpilare van die SAID is om vertroue en geloofwaardigheid onder belastingbetalers te verseker. Diegene wat hierdie vertroue misbruik, sal aan die pen ry,” sê Kieswetter.

“Die meeste werknemers by die SAID is toegewyd aan ons hoër doel en werk met onbetwisbare integriteit. Dit illustreer die waardes van eerlikheid en professionaliteit. Ons kan nie toelaat dat die gedrag van enkeles afbreuk doen aan die belangrikheid van ons werk in diens van ons land nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie J ·

Eish, ek het toe nie gadenk die polieste sal eers bel nie, want die poliesbaas wou self die lorrie gehe het.

Jakes ·

Daar moet nog n resep uitgevind word vir n perfekte moord want nog altyd is moordenaars se tonge te los en hierdie vrou sal lank tronk toe gaan indien sy iemand gehuur het om die vuil werk te doen.

LANA is ELANè ·

Hoe is dit dat die belastingverlies soveel hoër is as die waarde van die produk?
Miskien is ek net nie “tax~wise” nie maar ek verstaan nie lekker nie, want as dit die geval is, is dit mos geen wonder mense is met smokkel besig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.