‘Amptenaar’ vas ná hy vrou glo afpers

Herman Mashaba (Foto: ANA)

ʼn Man is in Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy hom as ʼn stadsamptenaar voorgedoen en omkoopgeld van R6 000 uit ʼn inwoner van La Rochelle in die suide van die Goudstad probeer kry het.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, sê die man sal na verwagting Maandag in die landdroshof voorkom op aanklagte van bedrog en afpersing nadat hy Vrydag in hegtenis geneem is. Nog inhegtenisnemings word verwag.

“Na bewering was die klaagster se [munisipale] rekening agterstallig,” het Mashaba Sondagmiddag gesê. “Sy het die stad se inkomsteafdeling genader om te reël om haar skuld af te betaal.

“Terwyl sy probeer het om die probleem met haar rekening uit te stryk, het die verdagte haar genader en aangebied om haar te help deur die agterstallige bedrag af te skryf. Die verdagte het aangebied om dit teen ʼn betaling van R6 000 te doen.”

Die burgemeester het nie bekendgemaak met hoeveel die vrou se rekening agterstallig is nie.

Sy het ingestem om die man te betaal, maar net daarna ʼn span van die stad se Groeps- Forensiese en Ondersoekdiens genader, wat ʼn optrede in samewerking met die metropolisie gereël het.

Mashaba sê dit is onder sy aandag gebring dat die verdagtes, van wie een tot dusver aangekeer is, nou saam met amptenare van die inkomsteafdeling saamwerk. “Nog mense sal binnekort in hegtenis geneem word.”

Hy loof die inwoner daarvoor dat sy nie bereid was om by korrupte bedrywighede betrokke te raak nie, maar die geval by die stad se wetstoepassers aangemeld het wat flink op die verdagte toegeslaan het.

Mashaba sê daar is geen plek in die DA-administrasie van Johannesburg vir korrupsie nie. “Ons sal geen moeite ontsien nie en nou saam met ander wetstoepassingsagentskappe werk om seker te maak Johannesburg se inwoners kry die gehaltediens wat hulle verdien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hasie ·

Mnr. Herman Mashaba, ek wens SA het meër sulke mense soos jy gehad.

Piet parys ·

Dis die vrou wat geprys moet word . Goed gedoen hoop hulle gee jou nou bietjie afslag vir jou eerlikheid.

Gert van Wierdapark ·

Ondersoek moet landswyd (veral in groter sted) gedoen word in die betrokke afdelings waar inwoners reelings moet tref om agterstallige munisipale rekeninge te betaal. Daar sal altyd een of twee vrot appels wees wat saamwerk om geld te maak en bedrog te pleeg. Ek is seker as die fooitjie groot genoeg is kan agterstallige skulde, groot of klein, in die niet verdwyn!

Cherokee ·

Ek hoop (soos Piet parys) dat hulle haar afslag gee, en sal in werklikheid nie verbaas wees as hulle sonder om dit te publiseer, doen nie. As sy oneerlik wou wees, sou sy net R6000 betaal het. Nou kan hulle oorweeg om net R6000 oor te laat (ligsinnig gesê).
Haai, hulle hoef haar nie afslag te gee maar kan haar ‘n beloning gee oorlat sy die kroeks aan die kaak gestel het…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.