Amptenare aangekla ná meisie (8) doodskok

Charlene Jacobs (8). Foto: Verskaf.

Charlene Jacobs (8). Foto: Verskaf.

Die AfriForum-takke op Secunda en Leandra in Mpumalanga het klagtes van moord en strafbare manslag teen twee amptenare van die Govan Mbeki-munisipaliteit ingedien nadat Charlene Jacobs (8) onlangs naby haar ouerhuis doodgeskok is.

Charlene is op 10 Augustus omstreeks 15:00 doodgeskok toe sy teen ’n kragpaal buite haar ouerhuis op Leandra geleun het. Kragdrade het na bewering uit ’n gat gesteek en aan die paal geraak.

Volgens Charlie Jacobs, Charlene se pa, het sy buite saam met haar maatjies gespeel toe sy moeg geword en teen dié gelaaide kragpaal geleun het.

Jacobs beweer hy is ʼn dag ná sy dogtertjie se dood by die polisiekantore én munisipaliteit op Secunda weggewys toe hy die voorval wou aanmeld.

secunda Charlene Jacobs 1

Hillel Coetzer, streeks koördineerder van Mpumalanga-Wes en Charlie Jacobs, Charlene se pa. Foto: Verskaf

AfriForum is verlede week na die plaaslike polisie in Leandra om ʼn saak teen die munisipale bestuurder en hoof van tegniese dienste aanhangig te maak.

Volgens Hillel Coetzer, streekskoördineerder van Mpumalanga-Wes, het die stasiebevelvoerder glo aan Jacobs gesê dat hy sy verklaring mag aflê, maar slegs die inligting mag aanmeld wat die polisie as “belangrik” beskou.

AfriForum het die saak verder na die polisie se nasionale kantoor gevoer asook onder die aandag van die waarnemende kluster-bevelvoerder in Secunda gebring waarna opdrag gegee is dat die organisasie en Jacobs bygestaan moet word om die klagtes in te dien.

Die munisipaliteit het ook eers ná AfriForum se ingryping opgetree en die paal van die kragnetwerk ontkoppel.

“Weens die gebrek aan behoorlike dienslewering en instandhouding deur die munisipale bestuurder en hoof van tegniese dienste, het ʼn onskuldige kind haar lewe verloor. Hierdie optrede deur die betrokke mense is strafregtelik van aard en hulle moet tot verantwoording geroep word,” het Coetzer gesê.

Volgens ʼn onafhanklike deskundige wat AfriForum genader het, het onwettige elektrisiteitskoppelings aan gelaaide elektrisiteitsdrade aan die paal geraak. Verder het die lamppaal ook geen aarddraad gehad nie.

Volgens Coetzer is ʼn soortgelyke saak in Standerton aangemeld, waar ʼn kind ernstig beseer is nadat hy geskok is deur ʼn oop kragboks. Hy het gesê AfriForum sal ook ondersoek instel teen die Lekwa-munisipaliteit oor dié voorval.

“AfriForum reël tans berading vir die Jacobs-familie en bedank senior polisiebeamptes vir hul daadwerklike ingryping om Jacobs en AfriForum op grondvlak by te staan,” het Coetzer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

WitBlits ·

Welgedaan Afriforum en dis wonderlik dat julle die “fat cat” amptenare persoonlik aanspreeklik hou vir hulle gebrek aan die uitvoering van hulle pligte!

Jan maak n Plan ·

Geen geld sal daai meisiekid kan terug bring of die seer by daai ouers weg vat nie. Die pa moet daai amtenare in hulle amptelikke en private hoedanigheid kaal uitrek in n hof. Hulle moet vir biljoene gedagvaar word.

Wat-ek-lees ·

Daar is geen verskoning vir hierdie gebeure. Dit is egter wat gebeur wanneer die volgende dorpe saamgegooi word in ‘n logge munisipaliteit naamlik Bethal, Emzinoni, Lebohang, Charl Cilliers, eMbalenhle, Evander, Trichardt, Secunda, Kinross, Thistle Grove, Leandra (Eendracht en Leslie). Daar is ‘n goeie 60 km tussen Bethal en Leandra soos die kraai vlieg.
Sover my kennis strek het Leandra, Charl Cilliers en Bethal die afskeepdorpe geword omdat Secunda die setel is van die munisipaliteit en distansies té groot is om behoorlike instandhouding te doen afgesien van ander faktore.
Hierdie stelling van my geld ook vir talle ander munisipaliteite.
Dit was net so onnosel om van vier provinsies nege te maak.

Karma ·

@Wat-ek-lees: dit maak nie saak hóé groot ‘n sekere munisipale area is nie; as daar regte ‘competent” mense aangestel word om die werk wat gedoen moet word, te doen, sal ongelukke soos dié nie gebeur nie. Goeie voorbeeld: Die Breedevallei Munisipaliteit is gemiddeld strek tot sover as Robertson (50km), Ashton (60km), Rawsonville (17km), De Doorns (40km) en Touwsrivier (70km) en daar word diens nie gekenmerk deur goed soos oop kragpale, 100’e en 100’e slaggate in paaie ens. ens. nie. Dit is die mense in beheer van werke wat nie hul werk doen nie wat sulke tragiese gevalle tot gevolg het.

Wat-ek-lees ·

En Karma, daar is jou eie antwoord dat dit net kan gebeur met “as”. Ons weet almal wat die antwoord is en snaaks sal dit wees indien net een bevoegde persoon aangestel sal word vir die elf dorpe waarvan ek praat. Inderdaad is ek in ‘n ander munisipale gebied waar die afgelope AGT JAAR die brandkrane in my dorp in ‘n haglike toestand is. So my stelling bly staan met die engelse uitdrukking “Out of sight, out of mind” wat hierdie munisipaliteite toepas.

Giada ·

@Wat-ek-lees: as jou argument is dat afstand swak diens beteken, weerspreek jy jouself mos nou in jou laaste paragraaf: met nege provinsies is dorpe nou baie nader aan die provinsiale hoofstede as vantevore. Dis nie afstand nie, maar werkslus en werkstrots en goeie bestuur wat grootliks bepaal of daar dienste is of nie.

Karma ·

Fantasties AfriForum – hierdie is ‘n klinkklare bewys dat julle vir almal – pienk, geel, oranje, die velkleur maak nie saak nie – omgee en sal veg. Ja, kry die dekselse vet katte aan die kortetjies beet en laat hulle boet. Uit hul eie sakke, nie die belastingbetaler s’n nie.

N ·

Mooi gese! Stem saam met jou! Voel So jammer vir daai meisie. Sterkte aan die ouers.

Fritz ·

As elektriese inspekteur kom ek daagliks hierdie beaarding probleem tee,ek kan nie glo hoeveel mense dit ignoreer nie. Mense met stoof of wasmasjien probleme kontak die goedkoopste persoon wat die kortpad vat, die beaarding ontkoppel en alles werk weer.
Elke slag as ek iemand aankla moet ek hof toe gaan,so ek waarsku ook maar nou net,
onthou dis die eienaar se verantwoordelikheid om net registreerde elektisien te gebruik
en dis die eienaar wat aangekla sal word indien iemand seerkry.

rudi ·

Hierdie was nie op n privaat eiendom nie. Ek het gewonder of daar nog inspekteurs is. Orals waar ek rondry in Gauteng sien ek oop kragbokse en stukkende of verkeerde werk. Selfs 11000V sisteme se deure is nie gesluit

Anti DA ·

Jammer dat ‘n kind eers moet doodgaan voor daar opgetree word nie eers van die polisie te praat nie hoop hulle word ook aangekla vir hulle traagheid (lui,onbevoegdheid) om die saak die eerste keer te ondersoek

Griet ·

Min of meer dieselfde insident het hier in Pietersburg ook so ‘n paar maande gelede gebeur en ook was ‘n dogtertjie doodgeskok deur oop drade by ‘n bushalte. My hart gaan uit na die verwese ouers

Jannie ·

Ons woon in Secunda, die mees onbevoegde en korrupte spul! Gelukkig help Sasol, anders was die dorp n ashoop. Ongelukkig ry die onbevoegde spul die sous trein. Trek hulle persoonlik uit, hier is talle oop elektriese installasies en daar is geen bekommernis daaroor nie! Simpatie oor die jong kind se tragiese, onnodige vroee dood.

alice pretorius ·

Gevalle soos hierdie moet by die Departement van Arbeid aangemeld word sowel as SAPD en die munisipaliteit. Dit is ‘n elektriese installasie wat onder die OHS Act val.

Gerrit Nortjé ·

n Paar maande terug is n kind in Polokwane ook deur krag dood geskok by n bushalte. Afri-forum moet dit ook sommer aanspreek.

Renier Lubbe ·

Oop kaste is oral algemeen, party staan al vir jare oop alhoewel kraglesings gereeld by die kaste geneem word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.