Amptenare se selfoongebruik tydens werkure moet verbied word

selfoon2_vuurvreters.jpg

Foto: pixabay.com

Die departement van binnelandse sake is versoek om die gebruik van selfone deur amptenare by ontvangstoonbanke tydens werkure te verbied.

Hlomani Chauke, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het gesê die komitee het al verskeie klagtes van die publiek ontvang rakende vertragings by kantore van binnelandse sake.

“Dit is onaanvaarbaar dat die publiek oormatig lank tyd by binnelandse sake se kantore moet bestee terwyl beamptes besig is met hul selfone. Amptenare moet ʼn diens lewer en die klagtes dui daarop dat amptenare nie die diens verrig nie maar tog aan die einde van die maand ’n salaris trek,” het Chauke gesê.

Dit is ook kommerwekkend dat dié praktyk ook by grensposte landwyd voorkom, het Chauke gesê en bygevoeg dat dit ʼn slegte indruk skep wanneer besoekers in die land aankom.

Chauke meen riglyne moet opgestel word oor die gebruik van selfone by ontvangstoonbanke en landwyd ingestel word om standaardisering te verseker. Die raamwerk moet ook riglyne bevat oor hoe amptenare gekontak kan word in gevalle van gesinsnoodgevalle.

Hy het gesê die manier om lang rye by binnelandse sake se kantore op te los is dat beamptes by hul toonbanke moet wees en die diens moet verskaf waarvoor hulle aangestel is.

“Ons is natuurlik bewus daarvan dat een van die hoofoorsake van lang rye die stilstand is wat veroorsaak word deur onbetroubare inligting en sagteware, maar professionele diens by die departement moet verbeter,” het Chauke beklemtoon.

Die komitee sal tydens sy eerste vergadering van die jaar die minister en waarnemende direkteur-generaal van die departement nooi om inligting te verskaf oor riglyne wat ingestel gaan word om die uitdaging die hoof te bied.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

heksie ·

by ons kantore mag jy nie jou selfoon gebruik gedurende werksure tensy dit vir nood is nie. En dit werk!

VanAfrika ·

en dan skiet die werkplek se telefoon rekening die hoogte in!!!!

honourable member ·

Daar was n “internal communication” uitgereik wat personeel verbied om voor die publiek op hulle selfone te praat so daar is geen verskoning vir hierdie gedrag nie. Die toesighouers moet hulle werk begin doen.

Anoniem ·

Ek werk saam met 2 persone wie omtrent heeldag met hulle selfone besig is. Dit kan net goed wees indien die gebruik van selfone gedurende kantoorure verbied word (beamptes sal dan meer produktief wees).

bee ·

Die bestuurders en onderbestuurders sit heeldag op hul fone by werk ook. Verban dan selfone asb; sal my bitter bly maak!! Mense om hul moet werk doen terwyl hul op fone sit en klets.

Anton van Centurion ·

Nog iets wat definitief die lang (en dikwels verkeerde) toue sal teëwerk is inligtingsborde by die kantore sodat ‘n besoeker weet wat die proses vir ‘n spesifieke transaksie behels. ‘n Alternatief is ook dat inligtingsbeamptes op die vloer rondbeweeg en sulke vrae beantwoord

Natascha ·

Ek se ook weg met fone by skole en werks plekke, in die ou dae kon ons sonder selfone regkom, Dit is net n euwel. Jy kan soos my ou prof gese het, voor werk tee en eetens tyd op jou sel en internet, nie in werkstyd.
Daar is mos landlyne ingeval van n noodgeval? Kyk wat gebeur by die banke, dit moet n interne persoon wees wat ander laat weet hoeveel geld n persoon getrek het? Hoe anders sal mense wat groot bedrae trek dan geagtervolg word?
NEE WAT WEG MET SELFONE BY WERKS PLEKKE EN SKOLE.

Natascha ·

Hi Jessica, ek moet met trots en eerlikheid se dat Nigel se Home affairs se personeel baie profesioneel is, geen chappies en geen fone. Ek se ook doen weg met sel fone in skole en werks plekke, daar is mos landlyne wat jy kan gebruik in n noodgeval.
Dit is n euwel en in my oe baie onregverdig dat sommiges so baie tyd op hul fone spandeer in werkstyd.

Sari ·

Puik idee hoop dit kan ook by lisensie kantore toegepas word

Katvis ·

Stem heeltemaal saam dat selfone by werksplekke verbied word, so sal noodsaaklike werk gelewer word. Ons het honderde jare sonder selfone klaar gekom!!

christa ·

daar kan nie n beter wetgewing wees as om selfone te verbied by werkplekke waar met die publiek gewerk word nie. Ek het al gesien van polisiemanne wat by die toonbank op fone sit en nie die publiek bedien nie.

Sandy ·

Dis die sleutel woorde “diens moet verskaf waarvoor hulle aangestel is”. Die grootendeelse probleem is dat wanneer jy na die departmente toe gaan en gehelp moet word, lyk dit altyd of hulle jou eintlik ‘n guns doen. Vandaar kom die gebruik van die selfoon in terwyl hulle jou eintlik moet help, want hulle dink hulle doen jou die guns om hulle tyd af te staan.

Boertjie ·

Dink net jy doen jou inkopies by n supermark en die persoon agter die toonbank gesels op haar foon…. nou kan ek verstaan hoe baie mense se persoonlike inligting word uitelek as almal toegang het tot dit kan daar mos maklik fotos geneem word etc.

Alta ·

Ek was vandag by Centurion se kantore. Dame by ontvangs 2 keer voor sy my help op haar foon…net 1persoon wat werk by ontvangs van ID kaarte…mense staan tou buite omdat jy in Groepe ingaan…binne is dit chaos

Van Bloemfontein ·

Ek het Vrydag van 8h00 af in n ry gestaan en eers 13h00 by die gebou ingekom. Is 17h15 eers gehelp. Die son het my stukkend gebrand. Ek voel baie jammer vir die oumense wat ook in die lang rye moet staan. Moet ook nie durf om vrae oor die “diens” te vra nie. Die toonbanke is onbeman. Dit is onaanvaarbaar.

MAGGIE ·

Ek sal mal word sonder my foon!
Want dan kan ek nie Maroela se nuus lees nie!!

VanAfrika ·

My bestuurslisensie het die 25 Sept 2018 verval. 25 Sept het ek die kantore in Alrode besoek om my lisensie te hernu. Ek was weggejaag omdat hulle “short staffed” was. Gaan weer in Oktober toe moes ek hoor die vinger afdrukke masjien is van lyn af. Gaan toe weer die 21ste Desember 2018 en sit vir twee ure voor hulle my help, klaar met oogtoets moet ek net betaal, daar word vir my gesê ek moet oorkant die straat hardloop vir n afskrif van my ID want hullle het nie n masjien nie. dis nou al 2h55, sluitings tyd is 3uur. Ek hardloop verby die sekuriteits wag en ek sê hy moet wag ek gaan net n foto staat by die kiosk oorkant die straat maak. Hy sê vir my ” if you not here by tree clock I lock the gates”. Ek trippel by kiosk rond. Ek hardloop terug en wragtig sluit hulle daai hek. Ek soos n wafferse aap begin aan daardie hekke pluk soos n besetene. Ek hardloop na die sykant van die gebou, pluk weer die hekke. n Ou wat iemand leer bestuur sê “Mam go around the back, the door is open” Ek hardloop om die gebou en die twee sekuriteits wagte keer my. Ek begin gil. As ek nie nou my lisensie betaal nie keer ek hierdie hele gebou onderste bo. “I just have to pay” skree ek. Vinnigste wat die twee manne my die gebou laat binne gaan “NET OM TE BETAAL”

Alida ·

Daar is geen hoop of vooruitsigte dat dit sal verbeter nie.

SjN ·

Seinblok moet daar geïnstalleer word, hoe moeilik kan dit wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.