Amputasie ná slangpik: ‘Nou kan ek kitaar en klavier speel’

Mikayla Robbertse voor haar operasie. Foto: Verskaf

Mikayla Robbertse voor haar operasie. Foto: Verskaf

Ná 38 operasies oor ʼn tydperk van vier en ʼn half jaar is die vinger wat Mikayla Robbertse (9) die afgelope tyd so baie pyn besorg het nadat ʼn Mosambiekse spoegkobra haar gepik het, geamputeer.

“Mamma is hy nou weg?” was die eerste woorde wat Mikayla Donderdagmiddag ná ʼn ses uur lange operasie in die Steve Biko-hospitaal aan Charmaine Robbertse, haar ouma wat na haar omsien, gesê het toe sy bygekom het.

Die gesin, oorspronklik van Lephalale (Ellisras) in Limpopo, het verlede jaar na Capital Park in Pretoria se Moot-gebied verhuis sodat Mikayla nader aan haar dokters kon wees. Sy is op 19 Desember 2011 deur die kobra op haar linkerhand gepik terwyl sy in haar bed geslaap het op die Robbertses se plaas buite Lephalale. Sy was toe vyf jaar oud. Die slang se gif het haar spierweefsel gevreet en ná 37 operasies was die wigamputasie die laaste uitweg.

“Haar vingertjie wou net nie gesond word nie. ʼn Liesflap is ingeplant om weefsel en bloedtoevoer in haar hand te herstel, maar tog het die vinger bly verkleur en die lid het doodgegaan,” het Charmaine aan Maroela Media gesê. “Dit het vorentoe gekrul in haar palm en veroorsaak dat sy min funksie in haar handjie het. Die amputasie moes gedoen word sodat sy werking in haar hand kan terugkry en haar ander vier vingers beter te kan gebruik. Die amputasie het meer voordele as nadele.”

Die amputasie is gedoen ná genoegsame berading om Mikayla vir die groot operasie voor te berei en wat om daarna te verwag. “Kayla is baie sterk en het sedert die operasie nog nie een keer gehuil of gekla van pyn nie. Onder die verband loer vier volmaakte vingertjies en haar hand lyk baie mooi. Haar dokters is baie tevrede met die operasie.”

Charmaine het gesê Mikayla is reg vir die pad vorentoe. “Sy is ’n klein kanniedood. Sy het klaar gesê sy wil kitaar en klavier begin speel sodra haar hand gesond is. Iemand het reeds vir haar ʼn klawerbord geskenk en sy het vir ons gevra of ons vir haar ʼn kitaar sal koop. Sy is baie musikaal en het gesê sy wil alle instrumente leer speel.”

Mikayla gaan na verwagting nog vier dae in die hospitaal deurbring waarna ʼn pad van fisioterapie vir haar voorlê. “As alles goed gaan sal sy nog net een operasie in die toekoms moet ondergaan en dit is om die liesflap op haar hand kleiner te maak met liposuiging.”

Charmaine raak bewoë van verligting en dankbaarheid terwyl sy vertel dat die lang pad na herstel nou tot ʼn einde kom. Sy het die span dokters en almal wat hulle die afgelope tyd bygestaan het met gebede en boodskappe van bemoediging bedank. “Ons besef dat ons deur die hele lang proses, nooit alleen hierdeur gegaan het nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Christine ·

Word gou gesond, Mikayla! Jy is ‘n pragtige en dapper meisie!

Vos ·

Goeie storie oor n staats hospitaal, hulle het alles probeer om haar vinger te red.

Wonderlike nuus ·

Hierdie berig is 2 x wonderlike nuus, die dokters het nie net moed opgegee en afgesit nie – soms is daar wonderbaarlike herstel en nou die vreugde dat alle ongemak weg is. Sterkte dapper meisie en laat die klawers en snare raas!!!!!

thea ·

my arme ou poppie, sterkte en hoop jy word vining gesond
wat ek op merk in die fotos, kyk hoe mooi skoon lyk die beddegoed en en die omgewing waar die bed is , Baie geluk Steve Biko hosp, dit lyk soos n privaat hosp

Gesiggie ·

Tog so dankbaar dat hul die dogter kon help, en dat al haar eina nou weg is: Mag als van nou af net mooi wees vir jul as gesin.

Ludwig ·

Moed hou, meisie, Jy is baie dapper. Ek weet sommer jy sal gou leer om reg tge kom met die vier vingers wqt jy nog aan daardie hand het. Ons hoop en bid almal dat jou probleem nou opgelos is. En aan die dokters ook: Knap gedaan. Julle het jul bes gedoen vir ‘n besondere kind.

Gina ·

Nog n bewys van God se Wonderwerke. Daar is soveel wonderwerke wat ons nie eers raak sien nie. Dankie Here vir hierdie dogterjie se lewe wat U gespaar het vir haar familie….Mikayla jy is n voorbeeld vir ander. Druk deur jy is n wenne

Elize ·

Mikayla jy is n sterretjie. Alles wat mooi is vir jou vorentoe.

christine ·

Hoop dat jy eendag in n groot orkes kan speel my meisie en tannie dink een van jou gunsteling liedjies sal wees , I wont give up . Dankie Maroela dat julle ons ophoogte gehou het.

Andre M ·

Toe ek klein was het ons n huishulp gehad wie se middlevinger vanaf die pols af verwyder was. Sy kon enige iets met daardie hand doen. Die heerlikse kosmaak, wasgoed was en die heerlikste brood bak. Mikayla, jy sal later nie eens weet die vinger kort nie. Sterkte aan jou, jy is pragtig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.