Amputasie wag nou op negejarige ná slangpik

Mikayla Robbertse in die hospitaal. Foto: Verskaf

Mikayla Robbertse in die hospitaal. Foto: Verskaf

Byna vier en ʼn half jaar nadat ʼn kobra Mikayla Robbertse, toe vyf jaar oud, in haar bed gepik het, gaan haar middelvinger aan haar linkerhand geamputeer moet word. Die wigamputasie sou verlede week plaasgevind het, maar is weens ʼn infeksie wat nou ʼn abses geword het, uitgestel.

“Sy is moeg, moedeloos en het baie seer,” het Mikayla se ouma, Charmaine Robbertse, Maandag aan Maroela Media gesê. “Sy raak nie sommer moedeloos nie en vra nooit vir pynmedikasie nie, maar sedert die abses Saterdag begin vorm het, vra sy daarvoor. Sy wil nou net hê die vingertjie moet af.”

Mikayla is op 19 Desember 2011 deur ʼn Mosambiekse spoegkobra by haar grootouers se huis in Lephalale (Ellisras) in Limpopo op haar elmboog en hand gepik.

Mikayla se handjie. Foto: Verskaf

Mikayla se handjie. Foto: Verskaf

Die gesin het haar hoor gil en haar pa, Bertus, het na die kamer gehaas en toe die slang gesien. Charmaine en haar man het Mikayla na ʼn hospitaal gehaas terwyl Bertus en ʼn buurman die slang opgespoor en doodgemaak het.

“Ons het geweet ons moet vasstel watter soort slang dit is sodat die regte teengif toegedien kon word,” het Charmaine gesê. Op pad na die hospitaal was Mikayla in ʼn skoktoestand en haar liggaam het begin ruk. In een stadium, terwyl sy in die hospitaal was, het haar niere ook begin ingee. Sy was vir sowat ʼn week in die waaksaal van die Steve Biko-hospitaal waar sy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel was.” Haar dokters was bekommerd dat die slanggif weefselskade kon veroorsaak en sy haar hand kon verloor.

“Die dokters moes spierweefsel van haar hand en arm verwyder omdat die gif ʼn tonnel deur die spiere gevreet het. Haar hand was daarna vir sowat drie weke aan haar liesweefsel vasgewerk sodat liesflap kon vorm om weefsel en bloedtoevoer op haar hand te herstel.”

Charmaine het gesê die middelvinger kon egter nie gered word nie. “Dit is nou ʼn dooie lid. Dit krul vorentoe in haar palm en veroorsaak dat sy min funksie in haar handjie het. As die amputasie gedoen word, sal sy baie meer werking terugkry en haar ander vier vingers beter kan gebruik sonder dat die middelvinger in die pad is. So, die amputasie het meer voordele as nadele,” het Charmaine verduidelik.

Volgens Charmaine is dit nog nie duidelik wanneer die amputasie, ook in die Steve Biko-hospitaal, gaan plaasvind nie. “Al die kwaad moet eers uit, so dit gaan dalk nog ʼn week of langer neem.”

Intussen gaan Mikayla aan met haar skoolverrigtinge en ontvang ook sielkundige berading by die skool om haar vir die amputasie voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Donovan ·

Hoop die kind herstel vinnig en dat die Here se genade haar sal vind…

Gert ·

So jonk en sy moet al klaar soveel seer en lyding beleef. Sterkte Mikayla en ook vir jou ouers.

charlene ·

Aai die arme kindtjie, so klein en onskuldig en dan moet sy so baie pyn verduur. Poplappie ek hoop al die sleg kom sommer gou uit dat hulle daai vinger kan afkry, sodat jy weer kan sag en speel soos `n dogtertjie moet.
Sy lyk so hartseer en weerloos in daai bed, breek `n mens se hart. Sterkte aan mamma en pappa en ouma en almal.

christine ·

Ek is in trane vir die dapperste kind Sterkte julle almal. Maroela sal ons op hoogte hou. Ons bid vir julle en vir die ouma ek weet ook dat dit vir haar swaar is. Heng dit lyk baie seer Fooitog

Susann Rojas ·

Sy is in 2011 gepik…. en nou eers word daar plan gemaak?
5 en half jaar van pyn???? Dit grens aan mishandeling…..
Ek hoop dit was ‘n tikfout aan Marloera se kant…

Liza ·

Susannnnnn, dit is ‘n baie lang pad na herstel, lees asb weer die volledige berig.

Lita ·

Sy het al 38 operasies gehad en is nie net gelos in pyn nie. Sy het al heelwat deurgemaak en daar lê ‘n lang pad na herstel vir haar voor. Pleks van te oordeel, bid eerder vir die gesin, asseblief. Dat al die gif sal uitkom en klein Mikayla soos enige ander dogtertjie kan grootword met drome, nie pyn nie. Ons is baie lief vir jou Kaylatjie. xxx

Kiewiet ·

Duidelik dame het jy nie ‘n idee waarvan jy praat nie……gaan lees bietjie meer en kry jou feite reg en dan post jy weer….die laaste wat hierdie mense nou nodig het is om sulke negatiewe snert te lees. Rerig…..as jy nie weet waaroor dit gaan nie bly liewer stil asseblief…..!!

Loeis ·

Dit is baie erg, en sy is nog so klein. Ek hoop regtig haar hand herstel tne volle na die operasie :(

Gesiggie ·

Susann… ja ek stem? sjaim dit is nou al n lang tyd van wag… en intussen gaan die arm meisie nou deur al die seer, dit is nie lekker om te sien hoe kinders in pyn moet wees… ek hoop dat al die eina gou beter sal word, en dat die operasie n groot sukses sal wees…sterkte aan die ouers.. en aan Mikayla… een van die dae kan jy weer lekker speel..

Thea ·

Ag siestog Ek glo die hele land bid vandag vir jou kleine meisietjie, weet net Jesus sal jou handjie baie gou genees, Hy ken jou hartjie en ons bid vir jou oumahul en pappa, mamma en weet nie of jy sussie/boetie het nie. Glo en vertrou als. Sal goed gaan. Bid vir dokters ook. Liefies jou Tannie Thea xxx

Rina Kotze ·

Sterkte dapper meisiekind!
Mag Jesus jou spoedig genees en dat jy geen nagevolge sal oorhou nie!

wes kaap ·

Ek vra asb dat almal vir hierdie klein mensie sal bid!!! Ons Liewe Vader sal haar hier deur dra!!! Baie sterkte my kind!!!! Jy is so klein.

johann cb ·

Baie sterkte Mikayla, jy is werklik ‘n baie dapper jong meisie. Na daardie vreeslike ervaring, stel jy vir baie van ons ‘n voorbeeld – so jonk en so vol moed! Ons bly bid vir jou en almal wat jou so bystaan.

Leon ·

Sterkte, moedige dogtertjie. Binnekort sal die pyn iets in die verlede wees, en jy sal ‘n pragtige lewe vorentoe hê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.