Amy hoor op Lara se verjaarsdag dat sy oorlede is

Lara (links) en Amy (Foto: Facebook)

Die 15-jarige Amy Dedekind van Pongola in KwaZulu-Natal het “wonderbaarlik herstel” ná die gru-ongeluk wat vroeër in Oktober haar ouer suster se lewe geëis het en sal waarskynlik binne die volgende week uit die hospitaal ontslaan word.

Maroela Media het vroeër berig Amy en Lara (18) was saam met ʼn vriend vanaf hul plaas in Pongola op pad terug skool toe ná die skoolvakansie toe hulle in dié ongelukke betrokke was. Dié betrokke dag was baie mistig en die drie jongmense het teen ʼn stilstaande vragmotor gebots. Die vriend, Adolf, het slegs geringe beserings opgedoen, maar beide Amy en Lara is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas. Lara het kort ná haar aankoms by die hospitaal ʼn beroerte gehad en is intussen oorlede.

Mark en Telani Dedekind, hul ouers, het vroeër gesê nét hul geloof en die ondersteuning van vriende, familie en weldoeners hou hulle staande.

Freddy Robertson, Telani se broer wat as woordvoerder vir die gesin optree, sê dit gaan “onder die omstandighede goed” met Amy, Mark en Telani.

Robertson sê Amy het intussen haar bewussyn herwin en die dokters is baie positief oor haar herstel.

Mark en Telani Dedekind saam met Lara (18) en Amy (15) (Foto: Facebook)

“Ons is baie dankbaar vir die genade wat ons met Amy se lewe ontvang het,” sê Robertson. “Dit gaan elke dag baie beter met haar. Sy gebruik nie meer pynmedikasie nie, behalwe wanneer dit régtig nodig is.”

Amy het volgens die mediese personeel aanvanklik die ergste beserings in die ongeluk opgedoen. Haar herstel word as ʼn “wonderwerk” beskryf. “Die dokters was onlangs bekommerd toe sy koors gehad het – omdat sy ʼn breinbesering opgedoen het, was die dokters bang dat daar infeksie op haar brein kon wees. Hulle was ook bang vir meningitis, so hulle het ʼn reeks toetse op haar gedoen wat onder meer ʼn lumbale punksie en hartskanderings ingesluit het. Die Here was vir ons goed; elke toets het positief teruggekom. Sy het maar net blaasinfeksie gehad, maar is vandeesweek weer heeltemal op die herstelpad.”

Amy het reeds konstruktiewe chirurgie ondergaan soos onder meer die herstel van haar kakebeen. Sy sal egter eers beenoorplantings in haar gesig kan kry wanneer sy ouer is omdat haar liggaam in dié stadium steeds groei.

Lara (links) en Amy (Foto: Facebook)

Mark en Telani het Amy op 20 Oktober – op Lara se verjaarsdag – van haar suster se afsterwe vertel. Robertson sê dit was ʼn baie emosionele dag vir die gesin, maar dat hulle dié stryd “saam in die geloof” aansê. “Hulle was almal baie hartseer en het baie gehuil. Maar hulle is nou oukei. Ons het altyd geweet dat Lara ʼn groot doel in die lewe het, ons het net nie geweet dat haar doel só groot gaan wees nie. Mark en Telani het toestemming gegee dat Lara se organe geskenk kan word, en sy gaan dus ses mense se lewe verander óf red. Dít is die plan wat God met haar lewe gehad het, en ons moet dit aanvaar, al is dit tog bitter seer dat ons haar nie weer gaan sien nie. Sy is waar sy moet wees – in die hemel by die voete van God.”

Robertson sê Adolf is ook terug by sy gesin en vaar ook goed. Hy sê Amy het vandeesweek weer grappies begin maak en sien uit daarna om weer terug huis toe te keer. As haar herstelproses na wense verloop, sal sy in Januarie volgende jaar weer terugkeer skool toe. “Sy is chirpy en sy lag weer. Die seer gaan vir lank nie weg nie, maar ten minste het hulle baie ondersteuning en gebede wat hulle dra. Dit gaan elke dag beter en hulle kry elke dag meer vertroosting. Hulle weet God het ʼn plan en hulle weet dat hulle ook eendag weer oukei gaan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Liza ·

Dit is so hartseer my hart gaan uit aan Lara se familie… sterkte… en weet dat God julle elke tree dra

Elisabeth Kruger ·

Dit is nou die beste nuus, is so seker ons Vader het n plan vir hierdie Gesin.

Vlooi ·

Volgens die kinders se gebeds groep op facebook is die kind vanoggend ontslaan vanuit die hospitaal.

Gesiggie ·

Mag Jesus jul as gesin net van nou af die mooiste en beste lewe gee…. mag al die seer wat jul hervaar in vreugde verander… en aan Amy mag jy 100% herstel . Sterkte aan jul as ouers en my Innige simpatie met jul dogter Lara.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.