Amy-Leigh-ontvoering: Drie gaan skuld ontken

Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl tydens ‘n vorige verskyning. (Foto: Christel Cornelissen)

Drie van die verdagtes in die Amy-Leigh-ontvoeringsaak se borgtogaansoeke het Dinsdagoggend in die Vanderbijlpark-landdroshof hervat.

Tharina Human (27), Laetitita Nel (40) en Pieter van Zyl (50) word van ontvoering en afpersing aangekla.

Landdros Hussein Khota het nadat hy argumente van die staat en die beskuldigdes se regsverteenwoordigers aangehoor het, die saak tot 11 Oktober uitgestel vir uitspraak in die beskuldigdes se borgtogaansoeke. Die beskuldigdes bly in aanhouding tot dan.

Adv. Luanda Ngcobo, staatsaanklaer, het tydens Dinsdag tydens die hofverrigtinge volgehou dat die staat ʼn sterk saak teen die beskuldigdes het. Sy het gesê dit is ʼn ernstige saak aangesien ʼn sesjarige kind vir ure lank in ʼn klein en vuil plek aangehou is.

Volgens Ngcobo sal daar getuig word dat Human eers haarself wou laat ontvoer en toe ook oorweeg het om haar skoonsuster te laat ontvoer voor daar op Amy-Leigh besluit is.

Amy-Leigh de Jager (Foto: Facebook)

Die getuie was volgens Ngcobo teenwoordig toe die ontvoeringsplanne gemaak is. Daar is ook nog ʼn getuie wat glo by was toe Van Zyl vir Amy-Leigh na sy huis gebring het ná die ontvoering. Daar sal verder getuienis gelewer word dat al drie beskuldigdes bymekaar in Human se huis was.

Volgens Ngcobo het Nel ná haar inhegtenisneming ʼn bekentenis voor ʼn landdros afgelê waarin sy Human en Van Zyl by die saak betrek het. Ngcobo het aangevoer die publiek sal in gevaar wees indien die beskuldigdes op borgtog vrygelaat word.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het eers Dinsdagoggend eedverklarings in die hofrekord ingelees. Dit het die redes bevat waarom hulle aanvoer hulle op borgtog vrygelaat behoort te word.

David Mey, Human se regsverteenwoordiger, het aangevoer dat sy nie ʼn paspoort of enige reisdokumente besit nie. Haar agtjarige dogter is in haar ma se sorg en sy is besig met verdere onderwysstudies deur Unisa. Volgens Human beplan sy om onskuldig te pleit op die aanklagte teen haar.

Tharina Human en Laetitia Nel in die beskuldigdebank. Foto: Christel Cornelissen

Stoffel Venter, Nel se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt is geskei en dat haar twee minderjarige kinders sedert haar inhegtenisneming by hul pa in Pretoria woon. Sy is die eienaar van ʼn kleinhoewe in Vanderbijlpark en is afhanklik van die huurinkomste wat sy daaruit kry, asook van die onderhoud wat sy van haar eksman ontvang.

Nel het geen vorige veroordelings nie. Sy ontken dat sy op pad was om te vlug toe sy in hegtenis geneem is.

Lungelo Chriwa, Van Zyl se regsverteenwoordiger van Regshulp SA, het gesê sy kliënt het ʼn kleinhoewe in Vanderbijlpark besit maar het reeds vroeër die jaar met die proses begin om dit te verkoop.

Die transaksie is die week van sy inhegtenisneming afgehandel en sy vrou het intussen by hulle dogter en haar gesin in hul huis in Vanderbijlpark ingetrek. Volgens Van Zyl sal hy by hulle kan bly tydens die verhoor. Hy beoog ook om onskuldig te pleit. Van Zyl is tans werkloos en het een vorige veroordeling van diefstal in 2005.

Wynand en Angeline de Jager in die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: Mia Slabbert

Die verdagtes se onderskeie regsverteenwoordigers het in reaksie op staatsaanklaer Ngcobo se uitsprake gesê die staat maak hoofsaaklik staat op die getuienis van die ondersoekbeampte. Volgens die regsverteenwoordigers het Ngcobo ook kwessies opgehaal wat nie deel was van die getuienis wat reeds voor die hof aangehaal is nie. Hulle het ook aangevoer dat hul kliënte nie vlugrisiko’s is soos deur die staatsaanklaer aangedui nie. Daar is ook verskeie regsargumente aan die hof voorgehou.

Tharina Human in die beskuldigdebank tydens ‘n vorige verskyning. Foto: Christel Cornelissen

Human, Nel en Van Zyl word daarvan beskuldig dat hulle die plan bewimpel het om Amy-Leigh te ontvoer – en dit toe ook uitgevoer het – en ʼn losprys van R2 miljoen vir haar vrylating geëis het. Amy-Leigh is sowat 18 ure ná haar ontvoering teruggevind. Sy was ongedeerd.

Amy-Leigh is op Maandag 2 September voor Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, waar sy en haar vyfjarige boetie leerders is, by haar ma gegryp. ʼn Man in ʼn wit Fortuner het met haar weggejaag.

Human, Nel en Van Zyl is op 4 September, skaars twee dae ná die dogtertjie se ontvoering, al in hegtenis geneem.

Die vierde vermeende betrokkene in die saak, Mohlomohi Bafokeng, het op 25 September vlugtig in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn. Hy is op 23 September in hegtenis geneem. Bafokeng is vermoedelik die man wat Amy-Leigh by haar ma gegryp en toe in die wit Fortuner weggejaag het. Hy verskyn na verwagting Woensdag weer in die hof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
schaun

Sjoe,om te dink sy was n onderwyseres wat kinders moet opvoed en n voorbeeld stel maar oordeel kom ons seker nie toe.

Hannelie

Na alles gaan hulle onskuldig pleit.!? Nee regtig!!

marous

Die publiek sal in gevaar wees ?

Nettie

Ek wonder hoekom hierdie saak soveel aandag in die media en – klaarblyklik – voorkeur aandag van die SAPD geniet. Is dit omdat daar geld ter sprake (welaf familie) is? Maak geld wat stom is, reg wat krom is?

Ek wonder net – daar is sekerlik 10 000’e ánder ontvoerings- en/of mense-handel sake, wat eenvoudig maar net verdwyn in die “abyss” van etlike miljoene kriminele sake wat ondersoek word deur die SAPS. Mens sien nie dat hierdie ontvoerings- en/of mense-handel sake so aan die groot klok gehang word nie.

Geldmakery

Indien iemand onskuldig pleit en daar dan bewys kan word dat die persoon gelieg het, moet die straf verdubbel! Indien die persoon skuldig pleit, gee dan n ligter vonnis of laat hom skadevergoeding aan die slagoffer betaal.