Amy-Leigh-ontvoering: Net een kry borgtog

Tharina Human, die vermeende baasbrein agter Amy-Leigh se ontvoering, se aansoek om borgtog is van die hand gewys. (Argieffoto: Christel Cornelissen)

ʼn Aansoek om borgtog mag nooit in ʼn uitgerekte verhoor óf in ʼn kleedrepetisie vir ʼn verhoor ontaard nie. Só het landdros Hussein Khota Vrydagoggend in die landdroshof in Vanderbijlpark gesê, kort voordat hy Tharina Human, die onderwyseres en vermeende baasbrein agter die Amy-Leigh de Jager-ontvoering en een van haar medebeskuldigdes, Pieter van Zyl, se aansoeke om borgtog van die hand gewys het.

Landdros Hussein Khota het wél borgtog van R25 000 aan Laetitia Nel toegestaan. Hy het ook verskeie borgtogvoorwaardes gestel wat sy moet nakom.

Human (27), Nel (40) en Van Zyl (50) word saam met nóg ʼn man, Bofokeng Molemohi (24), van ontvoering en afpersing aangekla. Die drie word daarvan beskuldig dat hulle ʼn plan bedink het om die sesjarige Amy-Leigh te ontvoer – en dit toe ook uitgevoer het – en ʼn losprys van R2 miljoen vir haar vrylating geëis het. Amy-Leigh is sowat 18 uur ná haar ontvoering teruggevind. Sy was fisiek ongedeerd.

Die dogtertjie is aanvanklik op Maandag 2 September voor Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, waar sy en haar vyfjarige boetie leerders is, by haar ma, Angeline, gegryp. ʼn Man in ʼn wit Fortuner het met haar weggejaag. Volgens die voorlopige getuienis was Van Zyl die man agter die stuur, terwyl Molemohi glo die grypwerk gedoen het.

Landdros Hussein Khota. (Foto: Christel Cornelissen)

Human, Nel en Van Zyl is op 4 September, skaars twee dae ná die dogtertjie se ontvoering, in hegtenis geneem. Molemohi is eers drie weke later aangekeer. Die beskuldigdes is almal sedertdien in aanhouding.

Khota het Vrydag ʼn omvattende opsomming van die getuienis in die aansoek gegee en heelwat regspraak aangehaal waarop hy sy besluit gegrond het. Hy het selfs na ʼn Wikipedia-artikel met skoksyfers oor ontvoering in Suid-Afrika verwys.

Die ondersoekbeampte in die saak, konst. Clayton Motlaung, het in sy vroeëre getuienis volgehou die staat het ʼn sterk saak. Khota het hiermee saamgestem.

Motlaung het onder meer getuig die drie gaan moontlik hul verhoor wil ontduik, veral gegewe die ernstige aanklagte waarop hulle tereg staan. Indien hulle skuldig bevind word, kan hulle vonnisse van tussen 15 jaar en lewenslange tronkstraf opgelê word.

Khota het in sy uitspraak gesê uit die getuienis blyk dit dat Human haar posisie as onderwyseres misbruik het om na bewering dié afskuwelike misdaad te pleeg. Hy het gesê Human se gesigsuitdrukking tydens die aansoek het ook gelei tot ʼn negatiewe indruk van haar. “Sy het onverstoord tydens die getuienis gelyk,” het Khota bevind.

Amy-Leigh de Jager (Foto: Facebook)

Die landdros het gesê nadat Human se eie agtjarige dogtertjie gedreig is, het sy na bewering besluit om iemand ánders se sesjarige kind te ontvoer. Khota het dit as “bisar” beskryf.

Hy het gesê die misdaad waarvan die drie aangekla word, is boonop enige ouer se nagmerrie.

Die landdros het sy skok uitgespreek oor die manier waarop klein Amy-Leigh eindelik vrygelaat is. Sy is in ʼn gevaarlike deel van Vanderbijlpark langs ʼn pad gelos, waar twee barmhartige Samaritane hulle oor haar ontferm en veilig by die polisiestasie besorg het. Hy het die twee bedank en gesê daar kon in dié tyd selfs erger dinge met Amy-Leigh gebeur het.

Khota het bevind die moontlikheid bestaan dat Human en Van Zyl hul verhoor gaan probeer ontduik, of met getuies kan probeer inmeng, maar dat die kans skraal is dat Nel dieselfde gaan doen. Sodra Nel haar borgtog betaal het, mag sy dus terugkeer huis toe.

Molemohi het vandag aanvanklik in ʼn ander hof in dieselfde gebou verskyn, waar hy sy aansoek om borgtog laat vaar het. Ná die afhandeling van sy drie medeskuldiges se borgtogaansoek, is hy as medebeskuldigde in die saak teen hulle gevoeg.

Khota het tydens die bortoguitspraak gesê daar kan net bespiegel word oor die druk op Molemohi, wat op dieselfde perseel as Van Zyl gewoon het en soms vir hom gewerk het, om by die misdaad betrokke te raak. Molemohi is op die laaste nippertjie by die plan betrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petro

Ja Human, gaan sit jy maar “onverstoord” in jou gerieflike sel!

VanAfrika

Lewenslank vir die klomp, as ek net dink hoe ons gebid het en Jesus deurgekom het met die hoor van ons gebede en ek laat nag gesit het en gedink het aan die kleinding en wat besig was om met haar te gebeur. Slaap sy, martel hulle haar of is sy klaar dood net om weer van voor af te begin bid? Die verligting en al die dankie sê aan Jesus dat Hy haar beskerm het en haar weer laat vind het. Nee, Landros Hussein Khota, moenie hierdie mense weer tussen ons kinders vrylaat nie, hulle is te gevaarlik en… Lees meer »

ES

Ek is seker hulle is nou baie spyt daaroor – 15 jaar tot lewenslank is ‘n baie baie swaar straf! Ek weet nie hoe het enigeen van hulle gedink hul gaan daarmee wegkom nie…

Ek hoop soortgelyke misdade word in die toekoms met net sulke strawwe opgelewer!

Wielspore

Juffrou het nou genoeg tyd om in die tronk te dink oor die misdaad wat sy gepleeg het en daar is ook genoeg tyd om uit te droog van die dwelm gewoonte. Jy het die kwaliteit lewe van ‘n mamma se kind weg geneem om jou dwelm gewoontes te onderhou en is uitgevang, nou is dit jou beurt.

Waarheid

Jip daar het jy dit nou.
Nie gedink DIT kan gebeur nie ne?
Boontjie kry sy loontjie