Amy-Leigh-ontvoering: Trane in die beskuldigdebank

Tharina Human en Laetitia Nel vanoggend in die beskuldigdebank. (Foto: Christel Cornelissen)

Laetitia Nel se skouers het Vrydag geruk van die huil waar sy tussen haar twee medebeskuldigdes, Tharina Human (27) en Pieter van Zyl (50), in die beskuldigdebank van die Vanderbijlpark-landdroshof gesit het.

Nel se regsverteenwoordiger, Stoffel Venter, het die ondersoekbeampte onder kruisverhoor geneem oor die drie se aansoek om borgtog. Hulle word aangekla van ontvoering en afpersing, ná die ontvoering van die sesjarige Amy-Leigh de Jager.

Amy-Leigh is vroeër vandeesmaand voor Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark by haar ma gegryp en ontvoer. Sy is net minder as ʼn dag later ongedeerd gevind. Haar ontvoerders het ʼn losprys van R2 miljoen geëis, maar dié geld is nooit betaal nie.

ʼn Vierde betrokkene, die man wat klein Amy-Leigh by haar ma, Angeline, gegryp het, is nog soek.

Nel het Human, ʼn graad RR-onderwyseres by die laerskool, volgens die ondersoekbeampte, konst. Clayton Motlaung, vroeër al as die baasbrein agter die ontvoering uitgewys.

Nel het begin huil toe besonderhede bekend gemaak is van haar twee minderjarige kinders wat ná haar inhegtenisneming in die sorg van hulle pa geplaas is, en van haar pa, wat aan ʼn rolstoel gekluister is, by wie die gesin op ʼn kleinhoewe gewoon het.

Motlaung het tydens Venter se kruisondervraging gesê Nel het haar samewerking ná haar inhegtenisneming aan die polisie gegee en haar twee medebeskuldigdes uitgewys. Sy het ook ʼn bekentenis voor ʼn landdros afgelê.

Laetitia Nel vanoggend in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Motlaung het egter volgehou Nel moet agter tralies bly. “Sy is ʼn gevaar vir vroue en kinders,” het Motlaung getuig. Hy sê ook dat die moontlikheid bestaan dat die beskuldigdes hulle aan soortgelyke misdrywe kan skuldig maak as hulle vrygelaat word. “Dit is moontlik. Hulle het geld nodig. Hulle het álmal geld nodig. Dit was hulle motief.”

Lungelo Chirwa, namens Van Zyl, het dit aan Motlaung gestel dat geregtigheid nie noodwendig ʼn skuldigbevinding beteken nie.

Van Zyl se tasse was gepak en die huis op die kleinhoewe waar hy gewoon het leeg toe die polisie daar toegeslaan het. Motlaung voer aan dit dui daarop dat Van Zyl gereed was om te vlug, terwyl Van Zyl se regsverteenwoordiger aanvoer dit was omdat die kleinhoewe verkoop is en hy en sy vrou die perseel moes ontruim. Die kleinhoewe is glo vir R10 000 verkoop en dié geld is aan ʼn bank oorbetaal.

“Watter hulpbronne gaan hy gebruik om sy verhoor te ontduik?” wou Chirwa weet, nadat hy aan Motlaung gesê het dat Van Zyl nie eens ʼn paspoort het nie.

Motlaung het Vrydag ook getuig Human se agtjarige dogtertjie is in dié stadium in die sorg van haar ouma. Sy was teenwoordig toe haar ma in hegtenis geneem is.

Human het volgens Motlaung ook toestemming gegee dat haar ma volle toesig oor die kind kry.

Die kollig op Tharina Human. (Foto: Christel Cornelissen)

Maroela Media het vroeër berig Motlaung het heelwat besonderhede bekend gemaak oor die beplanning en uitvoering van die ontvoering waarvan die drie beskuldig word.

Motlaung het Donderdag getuig Amy-Leigh is omstreeks 08:00 voor die skool ontvoer toe die man wat haar by haar ma, Angeline, gegryp het, eers haar vyfjarige boetie gegryp en toe weer laat gaan het. Hy het weggejaag in ʼn wit Toyota Fortuner. Enkele minute later het Amy-Leigh se pa, Wynand, ʼn foonoproep gekry waarin die losprys vir haar vrylating geëis is.

Dit was foonrekords van die foon van waar dié oproep gemaak is, wat die polisie eindelik na die drie beskuldigdes gelei het.

Die borgtogverhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dereck Le Roux

Ek wil graag weet of die polisie wat so hoog vlieg op die suksesvolle arrestasies nie die moeite gaan mask om die vier swart samesweerders wat ook aktief betrokke was by die ontvoering van die kind nie gaan jag op hulle maak nie of is dit nou nie meer so belangrik vir die staat en die polisie nie en is hulle opsporing en arrestasies nie in belang van geregtigheid nie, daar moes mos sekerlik ook telefoniese selfoon kommunikasie gewees het tussen hulle en die baasbreine of hoe?????

Spook op thaba

Begin amper jammer te voel vir hulle. Simpatie met hulle kinders en ouers. Maar my steun gee ek aan die de Jagers

LK

Ek weet nie hoekom maar ek voel nou skielik jammer vir Nel. Hoe het sy dan nou betrokke geraak?? ook dwelms???

GP

Se maar wat julle wil maar ek voel jammer vir my mense wat sulke goed doen en moeilikheid wat volg. Natuurlik ook jammer vir die klein dogtertjie en dit maak dit nie reg nie.

Spook op thaba

Die saak is vir my baie deurmekaar. Daar net te veel teenstrydighede. Van Zyl is Nel se vriend. Van Zyl het n vrou. Of verstaan ek verkeerd. Daar ander teenstrydighede ook