Amy-Leigh-ontvoering: vierde verdagte ook vas

Tharina Human verlede week in die beskuldigdebank. (Foto: Christel Cornelissen)

Die vierde verdagte in die Amy-Leigh de Jager-ontvoeringsaga wat die polisie nou al amper drie weke lank ontwyk, is óók agter tralies.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die 24-jarige man is Maandagoggend in ʼn informele nedersetting in die Vanderbijlpark-omgewing in hegtenis geneem.

Hy sal na verwagting Woensdag vir die eerste keer in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn, het Naidoo gesê.

Hy sal dan weer 1 Oktober, wanneer die drie vermeende baasbreine agter die opspraakwekkende ontvoering se aansoek om borgtog voortgesit word, sáám met Tharina Human (27), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl, in die beskuldigdebank staan.

Hy word, soos die ander drie, van ontvoering en afpersing aangekla.

Amy-Leigh de Jager (6) (Foto: Facebook)

Amy-Leigh is op Maandag 2 September voor Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, waar sy en haar vyfjarige boetie leerders is, by haar ma gegryp. ʼn Man in ʼn wit Fortuner het met haar weggejaag. Dit is oënskynlik dié man wat nou ook in hegtenis geneem is.

Konst. Clayton Motlaung, die ondersoekbeampte in die saak, het Vrydag getuig die man, wat op dieselfde perseel as Van Zyl gewoon het, het laat spaander toe die polisie by die kleinhoewe opgedaag het. Sy identiteit was aan die polisie bekend, maar hy was tot vanoggend nog soek.

Human, Nel en Van Zyl is skaars twee dae ná die dogtertjie se ontvoering al in hegtenis geneem. Hulle is sedertdien in aanhouding. Human is ʼn graad RR-onderwyseres by Laerskool Kollegepark. Sy het die plan om Amy-Leigh te ontvoer glo bedink om ʼn Nigeriër, aan wie sy glo geld geskuld het, te betaal.

Human en Nel het verlede week ook ʼn aansoek gebring waarin hulle vra dat hulle in die polisieselle van ʼn plaaslike polisiestasie aangehou word, eerder as in die Johannesburgse tronk waar hulle tans is.

Ander gevangenes het hulle glo met die dood gedreig, nadat hulle die regstreekse uitsending van die hofgebeure gevolg het.

Landdros Hussein Khota het die aansoek van die hand gewys.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobra

Welgedaan, SAPS!

Gemaskerde Sopbeen

Juf Human moet liefs nie skuld aangaan IN die tronk nie………..daar’s nie plek om weg te hardloop van jou “dealer” af nie!!

Ig

Geniet die tronk julle skuldiges!!!!

Riaan

Volgende vraag is? Waarvoor skuld sy die Nigerier geld. Definitief nie omdat hy penne en potlode aan haar verkoop het nie.

A-nee-a

Dis maar hoe dit in ‘n tronk gaan, juf Human! Kry vir julle.