ANC ‘aanvaar’ hofuitspraak oor tussenverkiesings

Van die stemmateriaal wat by die huis aangetref is. Foto: Power987 News / Twitter

Argieffoto

Die ANC in Noordwes het gesê hy aanvaar die konstitusionele hof se uitspraak dat die tussenverkiesings in Tlokwe nie vry en regverdig was nie en om dié rede tersyde gestel is.

Dakota Legoete, die party se provinsiale sekretaris, het gesê die tussenverkiesings is by twee geleenthede uitgestel. “Die ANC het geduldig gebly en met die gemeenskappe gewerk, wat vir ons ʼn oorwinning by die stembus verseker het.”

Hy het verder gesê dat die uitslae van die verkiesing bevestig het dat die ANC besig is “om die nalatenskap van apartheid in Tlokwe tot niet te maak”.

Die applikante vir die hofaansoek was agt onafhanklike kandidate, in wyke wat op een na deur die ANC gewen is. Xolile David Kham en ander voormalige ANC-raadslede het reeds voor die verkiesings klagtes by die Onafhanklike Verkiesingskommissie gelê rakende registrasies in die onderskeie wyke. Hulle klagtes is egter deur die OVK van die hand gewys.

Die onafhanklike kandidate het die verkiesingshof genader om die tussenverkiesings uit te stel, maar die hof kon nie betyds byeenkom om die saak aan te hoor nie. Die OVK het ná die tussenverkiesings sy eie ondersoek van stapel gestuur en bevind dat die klagtes nie die uitslag van die verkiesing kon beïnvloed nie. Die verkiesingshof het later die klagtes aangehoor en die saak uitgegooi waarna die konstitusionele hof genader is.

Die OVK het intussen gesê dat hy daartoe verbind is om die hof se beslissing te implementeer. “Ons hoop om die tussenverkiesings so gou moontlik te laat plaasvind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Winston ·

Natuurlik sal hulle dit aanvaar. Dit spoor hulle aan om meer bedrewe te word met stemme steel. Eenvoudig, is dit nie.

Winston ·

Kom ek probeer weer Maroela. Natuurlik sal hulle uitslag aanvaar. Dit spoor hulle aan om meer bedrewe te raak met stemme steel. Die res sal ek nie herhaal nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Winston

Soms moet kommentaar per hand goedgekeur word. Dit neem dus soms ‘n wyle voordat jou kommentaar op die webwerf wys.
Wanneer jy dus nie jou kommentaar dadelik op die webwerf sien nie, beteken dit dalk bloot dat iemand dit nog nie goedgekeur het nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.